“Mamelodi” Kruger’s four-bore

25 September 2026

The roer of a Boer

28 September 2026

28 September 2026

Wat is die kenmerke van ’n suksesvolle herlaaier?

DEUR KASSIE KASSELMAN – Om te begin moet ons eers kyk na die doel van herlaai: Om gevuurde of nuwe doppe met doelmatige koeëls te laai vir optimale veilige gebruik in voorsiene situasies. As ons na die definisie kyk, kom daar dadelik drie hooftemas na vore waarvolgens ons die herlaaier kan beoordeel in wat hy doen.

Hierdie foto toon die resultaat van goeie herlaaibeplanning. Dirk Hoffman, die jagter, moes weens ’n mediese kondisie die lading aanpas om sy blootstelling aan die geweer se terugskop te verminder na dié van ’n .30-06. Nogtans moes die koeël steeds sy werk kon doen op ’n buffel oor ’n bepaalde afstand van ongeveer 50 meter. Die foto toon die suksesverhaal.

 

  1. Die definisie sê die herlaaier moet weet waarvoor die ammunisie gebruik gaan word. Dit bepaal aan watter eienskappe die komponente wat hy gaan gebruik, moet voldoen. Hy moet die regte koeël kies, asook die regte dryfmiddel om die koeël met die regte spoed te bring by die teiken op die waarskynlike afstand waarop geskiet gaan word. Dit is belangrik dat hy redelik goed moet weet wat met die koeël moet gebeur nadat die teiken getref is, asook waar die koeël die beste gestabiliseer sal wees. As dit jagammunisie is, is dit uiters belangrik wat die koeël gaan doen nadat die teiken getref is, terwyl dit met ammunisie vir kompetisies uiters belangrik is dat die koeël gestabiliseerd en akkuraat by die teiken uitkom om ’n trefmerk of gaatjie in die papier te wys. Hiervoor moet die herlaaier ’n goeie werkende kennis van koeël- en dryfmiddeleienskappe hê.
  2. Tweedens sê die definisie dat die herlaaier ’n korrekte meganiese laaiproses moet volg om die komponente aanmekaar te sit vir die vervaardiging van die patroon. Hiervoor het die herlaaier kennis van die werking van die toerusting nodig, asook van die herlaaiproses en laaiprosedure.
  3. Derdens sê die definisie dat die herlaaier dit binne die raamwerk van veiligheid moet doen. Dit impliseer dat die herlaaier alles in sy vermoë moet doen om te verseker dat die ammunisie veilig in die betrokke wapen gebruik kan word, binne die maksimum veilige drukparameters.

Hierdie foto wys dat die spoed- en terugskopbeplanning goed gewerk het op beide skote.

 

Dit bring ons dan by die herlaaier se credo, naamlik:

  • Doelmatige komponente
  • Die korrekte proses
  • Veiligheid

Elke herlaaier is inherent ’n goeie herlaaier. Die graad van bedrewenheid wat elkeen kenmerk, word deur ’n magdom van faktore of impulse beïnvloed. Hier dink ek aan blootstelling aan verskillende kalibers gewere, die omgewing waar die herlaaier grootgeword het, aanmoediging deur ouers, grootouers of vriende, toegang tot komponente, sy leerskool, sy persoonlikheid, sy liefde vir wapens en ammunisie… en nog baie meer.

Persoonlik dink ek ’n mens kan dit alles in twee hoofkategorieë indeel, naamlik karaktereienskappe en aangeleerde/ontwikkelde kennis en vaardighede. Die karaktereienskappe is vir my ’n onbekende terrein. Kom ons kyk liewer na aangeleerde en ontwikkelde kenmerke.

FOKUS

Die eerste kenmerk wat ek dink belangrik is, is dat die herlaaier moet aanleer om te fokus op wat hy doen. Pasop vir aandagafleiers. Die herlaaier werk met gevaarlike komponente waar foute nie bekostig kan word nie. Dit werk nie goed om die TV as geselskap te hê wanneer jy met herlaaiwerk besig is nie.

KENNIS

Soos vir enige beroep of stokperdjie, moet die herlaaier moeite doen om inligting oor die laai van ammunisie te bekom. Let wel, inligting, nie menings nie. Baie keer skryf mense baie nonsens op forums, wat dan deur onkundige herlaaiers as feite aanvaar word, maar wat hulle dan duur te staan kom.

Elektroniese hulpmiddels is vandag volop, so ook toegang tot elektroniese programme en die internet. Hierdie bronne is baie nuttig, mits hulle as hulpmiddels gebruik word en nie as determinante nie. ’n Rekenaarvaardige herlaaier het baie om voor dankbaar te wees, maar hy moet onthou dat hy nie noodwendig ’n goeie herlaaier is weens sy rekenaarmatige kennis alleen nie.

NUUSKIERIGHEID

Dan Hackett, ’n Amerikaanse meningsvormer in die herlaaiwêreld, het gesê: “Relying on someone else’s prescription for accuracy could cause you to miss trying something that gives the tightest groups you’ve ever seen. Even more important, perhaps, such a reliance is dangerous because it chips away at something you really need to have: endless curiosity and being open to the possibilities raised by things that don’t work quite as you expected.”

Wat Hackett hier sê, is dat ’n herlaaier altyd daarna moet streef om te verbeter op wat hy bereik het. ’n Herlaaier probeer altyd nuwe kombinasies van komponente, bly op die hoogte van tegnologiese ontwikkelings en bestudeer resultate wat verkry word.

TOERUSTING

Korrekte toerusting is ’n herlaaier se trots. ’n Herlaaier koop nie altyd die duurste toerusting nie, hy bekom die toerusting wat sy doel die beste gaan pas.

Talle “goedkoop” toerustingstukke is beter ontwerp vir die bepaalde doel waarvoor die herlaaier sy ammunisie met die hand laai. Daarom sal ’n herlaaier altyd sorg dat sy toerusting funksioneel, diensbaar en ordelik gerangskik is.

BESKEIDENHEID

Die mening van iemand wat altyd beter weet en voorgee hy weet alles van alle wapens se herlaaiuitdagings, en dan sommer die oplossings ook, moet met versigtigheid hanteer word.

Die herlaai van ammunisie is ’n dinamiese oefening omdat daar so baie veranderlikes by wapen- en ammunisiekomponente teenwoordig is. ’n Herlaaier moet nooit in hierdie strik trap nie. Hy mag ’n mening hê wat op sy ervaringsveld gebaseer is, maar dit mag nooit absoluut wees nie.

(Hierdie is ’n verkorte weergawe van die artikel ‘Die profiel van ’n herlaaier’ wat in die January –February 2024-uitgawe van SA JAGTER/HUNTER.)

Related Articles

← “Mamelodi” Kruger’s four-bore The roer of a Boer →