On the shoulders of giants: A young man’s perspective on hunting

24 September 2026

Die wat, waar en hoe van kleiner vlaktebokke-jag: Die springbok

25 September 2026

24 September 2026

Boerejagters op die spoor van legendariese olifante

DEUR JACO VAN WYK – ’n Blik op die reuse-ivoordraers van weleer en die Boere wat hulle gejag het

LINKS: F.C. Selous het baie van die Boerejagters van ouds leer ken tydens sy omswerwinge deur Suidelike Afrika. REGS: Die bekende Boerejagter Jan Viljoen. FOTO: WWW.SAHISTORY.ORG.ZA

 

Talle Afrikaners, of Boerejagters soos destyds na hulle verwys is, het waarskynlik die laaste drie en ’n half eeue reusagtige ivoordraers gejag. Ongelukkig is feitlik niks hiervan opgeteken nie, hoofsaaklik omdat dit nie in die Boerejagters se aard was om sulke wetenswaardige gevalle aan te teken nie. Vir hulle was jag alledaags en die meeste het waarskynlik nooit daaraan gedink om hul ervarings neer te pen nie. Talle was ook ongeletterd en dus eenvoudig nie in staat om pen op papier te sit nie. Daar is bloot vir die pot of die geldsak geskiet, beslis nié vir roem of vir museum-eksemplare nie!

Gelukkig was daar enkeles soos P.J. Pretorius wat sy lewensverhaal opgeskryf het en wie se ervarings in Engels vertaal is. As dit nie was vir die meestal ander-talige skrywers soos die bekende F.C. Selous, Dennis Holman en Tony Sánchez-Ariño wat in hulle boeke na die Afrikaners/Boerejagters verwys het nie, het ons waarskynlik nóg minder van hierdie uitgelese klub Boerejagters geweet.

J.J. (Kees) Smith het vir die nageslag ’n kosbare kleinood in Afrikaans agtergelaat in die vorm van sy jagervarings met groottand-olifante wat hy in die destydse koloniale Kenia geskiet het.

Die groot ivoordraers noord van die Oranjerivier in Suidelike Afrika is feitlik 50 tot 100 jaar voor die meer algemene gebruik van kameras doodgeskiet. Gevolglik is daar geen fotografiese bewyse van dié moontlik merkwaardige olifante nie. Al was kameras geredelik beskikbaar, is dit onwaarskynlik dat meeste Boerejagters een byderhand sou gehad het.

Die magiese 100 pond is die standaard vir ’n olifantbul met besonder groot ivoor. Vandag het feitlik elke toeris wat die Kruger Nasionale Park besoek, ’n kans om só ’n olifantbul van 100 pond (45 kg) te sien. Daar is na bewering minstens 80 sulke olifantbulle in die Krugerwildtuin bekend wat ten minste een tand gehad het wat volgens die wildtuin se eie rekords 100 pond geweeg het. Daar is waarskynlik etlike ander bulle wat nog nie in die 100 pond-klas benoem of gedokumenteer is nie.

As die gewigsklas egter met sowat 15 kg per ivoortand gelig word, is dit ’n perd van ’n ander kleur. Tony Sánchez-Ariño maak 130 pond vir minstens een ivoortand die afsnypunt vir sy boek Africa’s Greatest Tuskers. Gevolglik het dié outeur dit as die standaardkriterium gebruik en hy verwys na 150 sulke merkwaardige olifante in hierdie boek.

Volgens rekords wat ek kon opspoor, is slegs nege gevalle bekend waar Afrikaners/Boerejagters olifante van 130 pond plus geskiet het. Daarenteen is daar talle Britse en Franse burgers, om slegs enkele nasionaliteite te noem, wat as jagters deur die dekades reusagtige ivoorolifante in Afrika geskiet het. Sommige Afrikanerjagters soos Hennie Wessels, wat in die destydse Tanganjika gejag het, se olifant met tande van 126 en 124 pond het net-net nie die uitsoeklys gehaal nie.

Die indrukwekkende Olifant-saal in die Krugerwildtuin se Letabaruskamp. Die tande van baie van die legendariese ivoordraers afkomstig uit hierdie wildtuin oor die jare word hier gehuisves. FOTO: JOHAN VAN WYK

 

As 60 kg die afsnypunt is, dan is selfs vier van die beroemde Magnificent Seven-olifantbulle nie eers by dié besondere groep olifante ingesluit nie. Die drie bulle Ndlulamithi, Kambaku en João het oor minstens een ivoortand van meer as 60 kg beskik.

João se tande is ingesluit, hoewel dit gebreek het en nooit gevind is voordat dit amptelik gemeet kon word nie. Hy is verdoof om ’n radiohalsband aan te sit en toe kon daar ’n redelik akkurate skatting van die grootte van sy ivoortande gemaak word.

Buiten dié drie Magnificent Seven-olifantbulle is daar slegs vier ander Krugerwildtuin-bulle in hierdie kategorie, naamlik Duke, Mandleve, Nhlangulene en Phelwana. Ons sluit Duke in, want al het hy beide sy tande gebreek, is die verlore dele wel gevind. Albei sy tande se afsonderlike gewig was meer as 60 kg.

Die veearts, olifantkenner en puik fotograaf, dr. Johan Marais, verduidelik egter in die boek Kruger Legends: Great Tuskers of the Kruger National Park dat dit nie eintlik só werk nie, want korter, afgebreekte ivoor groei baie keer vinniger as dié van onbeskadigde ivoortande, want hulle ondergaan nie slytasie soos in olifante waar albei tande behou is nie. In totaal is daar gevolglik slegs sewe sulke bulle van die Krugerwildtuin afkomstig – minder as 10% van die bekende 100 pond-klas-olifantbulle in dié beroemde wildtuin.

Vir hierdie uitgelese groep jagters was die keuse van die afsnypunt op 60 kg (of ’n raps oor die 130 pond) vir ten minste een ivoortand vasgestel. Daar was slegs nege sulke gevalle bekend van Boerejagters/Afrikaners wat ’n olifant met minstens een ivoortand van 60 kg of meer geskiet het. Daar word slegs na een geval verwys in Tony Sánchez-Ariño se boek. Interessant genoeg is verreweg die meeste van die slegs nege bekende en merkwaardige olifante nie van Suid-Afrika of selfs Suider-Afrika afkomstig nie.

DIE POTGIETER-BUL

Die beroemde jagter en skrywer F.C. Selous maak melding daarvan dat ’n Boerejagter met die van Potgieter in 1868 ’n reuse-ivoordraer gekwes het. Ons is egter nie eens seker wat die persoon se naam was nie! Potgieter het dié reus moontlik gekwes tussen die Vungo- en Gwelorivier noord van Bulawayo in wat vandag as Zimbabwe bekend staan. Hy het waarskynlik toestemming van die destydse Matabelekoning Silkaats verkry om in hierdie geweste te jag.

Dit was die gebruik om die koning se goedkeuring te kry en bekende Boerejagters soos Jan Viljoen en Petrus Jacobs het gereeld by die koning aangedoen voor hulle jaarlikse jagtog. Silkaats het in 1868 gesterf. Die karkas van ’n dooie olifantbul is ’n paar dae ná sy dood deur ’n inheemse jagter gevind. Dit was waarskynlik die olifant wat Potgieter gekwes het.

Hierdie ivoordraer het ’n allemintige gekombineerde ivoortandgewig van 136 kg (300 pond) gehad. As beide tande ewe groot was, het elke tand gemiddeld 68 kg geweeg!

Die Potgieter-olifant se ivoor is selfs ’n raps meer as dié van Ahmed, die bekende olifant van Kenia. Dit was vir lank die swaarste ivoor uit Suidelike Afrika en is waarskynlik steeds die swaarste aangetekende paar ivoortande uit die gebied wat as Rhodesië bekend gestaan het (die hedendaagse Zimbabwe).

G.S. Grobbelaar maak ook melding van dié olifantbul in die ou Afrikaanse boek Suid-Afrikaanse Soogdiere wat in 1924 onder die vaandel van die Voortrekker-reeks uitgegee is. Dit was een jaar voor Afrikaans ’n amptelike taal in Suid-Afrika was.

Volgens hierdie boek was die ivoor glo 8 vt (2,44 m) lank. Dit is ongelukkig al wat oor Potgieter en sy merkwaardige olifant opgeteken is.

Die Kruger Nasionale Park is die tuiste van ’n hele klompie massiewe ivoordraers soos hierdie bul wat in 2022 naby die Letaba-ruskamp afgeneem is. FOTO: JOHAN VAN WYK

 

BAUER (BÊREND/BAREND BOUWER) SE OLIFANT

F.C. Selous noem dat die grootste ivoortand wat moontlik uit die huidige Botswana kom, 79 kg of 174 pond geweeg het. Dié tand is in 1873 vanaf die Ngami-distrik na Bamangwato gebring. Die jagter was ’n Boer met die van Bauer. Dié tand was selfs groter as Mandleve s’n, wat steeds die kampioen-ivoordraer van die Krugerwildtuin is.

Die vermoede is dat dié Bauer waarskynlik die nimrod Bêrend/Barend Bouwer is wat in daardie gebied gejag het. Volgens J. von Moltke se Jagkonings was Bouwer reeds in die 1860’s ’n olifantjagter totdat hy hom later by die Dorslandtrekkers se jaggeselskap aangesluit het om grootwild te jag.

Danksy Von Moltke weet ons darem heelwat meer omtrent die ikoniese olifantjagter Bêrend/Barend Bouwer. Volgens Von Moltke het Bouwer vroeg reeds geweet van die olifantparadys in die Tebraveld tussen die Okavangorivier en Damaraland. Hy het aanvanklik alleen gejag, maar het later weens ’n vermoedelike tekort aan die nodige middele om hom vir ’n lang jagtog toe te rus, vir die welaf Hendrik van Zyl van die Transvaal gejag.

Bouwer was een van die uitgesoekte manne wat vir Van Zyl gejag het. Ander bekende Boerejagters wat deel van Hendrik van Zyl se groep was, was Cornelius Louwrens, Jan MacDonald, Stephanus Oosthuizen en Filip Scheepers. Van dié jagtogte het tot vier maande geduur.

Die ooreenkoms om vir Van Zyl te jag, was dat hy die helfte van alles sou kry wat die jagter skiet, want hy voorsien al die benodigdhede vir die jagtog. Bouwer is in 1870 getroud en sy vrou het soms saamgegaan op die jagtogte. Toe sy egter ’n kind verwag het, is hulle terug na die Transvaal vir die bevalling.

Interessant genoeg het Hendrik van Zyl ’n stuk grond in die omgewing van Ghanzi by hoofman Moremi geruil. Barend Bouwer was onder andere een van die getuies wat geteken het vir die grondruiltransaksie.

Bouwer was ook saam met die Dorslandtrekkers na Humpata in Angola. In 1884 het hy egter teruggetrek en ’n rol gespeel in die nedersetting Upingtonia waar hy lid van die bestuur was.

Tegnologie het ook verandering teweeggebring en onder die Boerejagters het die ou voorlaaiers teen 1880 plek gemaak vir Martini-Henry-gewere. Bouwer was later in beheer van 14 jagters wat vir ’n sekere Steyn ook olifante om ’n deel gejag het.

Volgens oorlewering het Bouwer altyd Boesmans gebruik om die olifante se spoor te volg. Sy modus operandi was om die olifante te perd te volg totdat die bosse te dig geword het en dan te voet verder te jag.

Barend Bouwer het tydens die Anglo-Boereoorlog as ’n veldkornet diens gedoen. Dit is jammer dat hy nie ’n boek oor sy merkwaardige lewensverhaal geskryf het nie. Hy was betrokke by drie pogings om ’n nuwe land vir die Boere te stig, het in die Anglo-Boereoorlog geveg en waarskynlik een van die grootste olifante in Suidelike Afrika geskiet tydens een van sy talle maande lange jagtogte.

Sy loopbaan as olifantjagter het reeds in die 1860’s begin. Volgens J. von Moltke is Barend Bouwer vir seker ’n sterk aanspraakmaker as die Boerejagter wat die meeste olifante geskiet het.

MARTINUS NEL SE REUS

Die statistieke van Tony Sánchez-Ariño se boek Africa’s Greatest Tuskers bevestig die feit dat die olifante met groot ivoor van Oos-Afrika afkomstig was. Dennis Holman meld in sy boek Inside Safari Hunting dat Eric Rundgren, een van die bekendste professionele jagters van Oos-Afrika, gesê het dat dit destyds die mikpunt was om ’n olifantbul met 150 pond ivoor aan beide kante te jag, want 100 pond-bulle was nie ongewoon in daardie geweste nie.

Eric het destyds 20 bulle op een ekspedisie geskiet, waarvan slegs een bul se ivoortande net-net onder 100 pond elk was. Die res was almal swaarder en selfs ver oor die 100 pond elk. Een van die bulle se ivoor het onderskeidelik 178 pond en 174 pond geweeg.

Rundgren meld dat hy die beroemde Afrikaner-olifantjagter Martinus Nel by Balimbala in Kenia raakgeloop het, waar hy vir ’n maand lank gejag het. Hy het ses stelle ivoortande gesien en nie een was onder die 100 pond-merk nie.

Nel het ’n olifantbul geskiet waarvan die ivoor onderskeidelik 164 en 163 pond (of 74,4 en 73,9 kg) geweeg het! Die kleinste van die twee tande is swaarder as die swaarste ivoortand in die bekende olifantmuseum in Letabaruskamp in die Kruger Nasionale Park.

Volgens Eric Rundgren was Martinus Nel ’n uitnemende olifantjagter. Rundgren het Nel beskryf as ’n taai, groot, sterk, bruingebrande Afrikaner. Martinus was in sy vyftigs toe hy dié beroemde bul geskiet het. Hy het altyd te voet gejag en al kos wat hy saamgedra het, was ’n stuk biltong in een van sy sakke.

As hy op die spoor van ’n olifant was, het hy hom bly volg. Nel was ’n boer wat seisoenaal gejag het om sy inkomste aan te vul.

Daar was egter ’n ander olifantbul waarvan beide Nel en Rundgren die tande op ongeveer 190 pond geskat het. Ná verskeie probeerslae van albei jagters kon hulle egter nie hierdie merkwaardige olifant onder skoot kry nie. ’n Paar jaar later, toe Rundgren wel dié olifant raakloop, het dit geblyk dat hy net een groot tand gehad het.

Dit was finansieel blykbaar nie die moeite werd om die olifant vir sy ivoor te skiet nie, want vir die prys van ’n olifantlisensie moes albei tande groot wees om dit lonend te maak.

Kees Smith maak ook melding van Martinus Nel in sy boek Op die Laaste Spore waar sy pa, oom Piet Nel, by Laikipia in die Thomson’s Falls-gebied geboer het.

Volgens Smith het Martiens Nel, soos hy na hom verwys het, oor die 800 olifante in sy leeftyd geskiet! Hy vertel dat Martiens se jagmondering uit plat skoene, ’n kortbroek en ’n breë-randhoed bestaan het – geen kouse of ’n hemp nie!

Fanie van Rensburg by die reusetande van die olifant wat hy in Kenia gejag het. Hy het die tande aan Safariland, ’n bekende Keniaanse jagondernemer, verkoop vir £200. FOTO: AFRICA’S GREATEST TUSKERS DEUR TONY SÁNCHEZ-ARIÑ0

 

FANIE VAN RENSBURG SE MONSTER

Safariland was die eerste onderneming in Oos-Afrika wat georganiseerde jagsafari’s aangebied het. Dié besigheid was gesetel in Nairobi, Kenia, en het in 1904 sy deure oopgemaak. Nairobi is slegs vyf jaar vantevore as ’n rangeerstasie vir die Kenia-Uganda-spoorlyn begin. In 1907 het Nairobi vir Mombasa as die hoofstad van die Britse kolonie vervang.

Die onderneming se naam was aanvanklik Newland & Tarlon Limited. Hulle het gespesialiseer in jag, fotografiese en wetenskaplike ekspedisies. Later is die naam verander na Safariland – die naam waaraan die meeste mense dié besigheid geken het.

Gedurende die besigheid se bedryfsfase het baie bekende professionele jagters vir Safariland gewerk, waaronder manne soos John Hunter, Phil Percival en Murray Smith.

Twee van Safariland se bekende kliënte in die beginjare was die Amerikaanse oudpresident Theodore (Teddy) Roosevelt en sy seun Kermit. Ander beroemde kliënte het talle lede van die Britse koninklike familie ingesluit, waaronder Edward, Hertog van Windsor (die voormalige Koning Edward VII), sy broer Prins Henry, Hertog van Gloucester, sy broer Koning George VI en hulle niggie Koningin Elizabeth II (dogter van George VI).

Ander beroemde kliënte was onder andere die skrywer Ernest Hemingway, die Graaf van Barcelona, die Aga Khan en die koning van Nepal.

Safariland het gehelp met die verfilming van die natuurtonele vir die 1950-weergawe van die silwerdoektreffer King Solomon’s Mines, waar Stewart Granger die rol van die beroemde jagter Allan Quatermain gespeel het.

Die grootste aantrekkingskrag by Safariland se kantore in Sadlerstraat in Nairobi was die kolossale paar olifanttande wat daar uitgestal was. Dié ivoormeesterstukke het onderskeidelik 172 en 169 pond (of 78 en 76,6 kg) geweeg met lengtes van onderskeidelik 11 vt en 11 vt 2″ (of ongeveer 3,35 en 3,36 m) lank!

Die langste bekende ivoortand in Suidelike Afrika is afkomstig van Shawu van Magnificent Seven-olifantbulle-faam, wie se een tand 3,17 m lank was.

Almal wou altyd weet waar die ivoor vandaan gekom het en wie die olifant geskiet het. Die personeel van Safariland het egter altyd geswyg oor die antwoorde op die vrae. In 1960 was die beroemde ivoortande nie meer by Safariland te siene nie.

Tony Sánchez-Ariño meld in sy boek Africa’s Greatest Tuskers dat hy eers in 2008 uitgevind het waar hierdie ivoor vandaan gekom het en wie dit geskiet het.

Die olifant is deur ’n Suid-Afrikaner, Fanie van Rensburg, gejag. Fanie was ’n boer van Eldoret in Kenia en was waarskynlik ’n afstammeling van die 47 Afrikaner-families wat in 1908 van Suid-Afrika na Kenia geëmigreer het.

Afgesien van boer het Fanie van Rensburg ook gereeld olifante gejag om sy jaarlikse inkomste aan te vul. Die verkoop van ivoor het gehelp om vir die plaas se onderhoud te betaal.

Gedurende die laat 1940’s het hy en ’n jagmaat naby Garrissa by die Tanarivier in Kenia olifante gejag. Die geweer wat hy gebruik het, was ’n .425 Westley Richards en hulle het sonder probleme die reuse-ivoordraer geskiet.

Om die maksimum wins uit die olifant se ivoor te maak, het Fanie dit vir Safariland aangebied. Hulle het £200 daarvoor betaal, wat destyds ’n aardige som geld was. Daarna het die ivoor vir meer as ’n dekade in Safariland se kantore gepryk.

Dié uitsonderlike trofee het menige jagter groen van jaloesie gemaak, en in 1960 het Safariland dit weer vir £1 000 aan ’n Amerikaner verkoop.

Waar die ivoor vandag is, is onbekend.

Volgens Tony Sánchez-Ariño is Fanie van Rensburg se reuse-ivoor een van die ses grootste paar ivoortande wat nie deur Rowland Ward of Safari Club International gelys is nie.

(Dié artikel het in die Maart/April 2026-uitgawe van SA JAGTER/HUNTER verskyn)

Related Articles

← On the shoulders of giants: A young man’s perspective on hunting Die wat, waar en hoe van kleiner vlaktebokke-jag: Die springbok →