Hunting quotas gazetted for elephant, black rhino and leopard

8 September 2026

Reloading – from humble beginnings to an exact science

8 September 2026

8 September 2026

Die Afrika-olifant: Bedreig of nie?

DEUR JOHAN VAN WYK – Olifante wek dikwels emosie op, maar is hulle werklik bedreig?

’n Trop olifante wat grotendeels uit koeie en kalwers bestaan by ’n suiping.

 

Die olifant, soos die renoster en die leeu, is sonder twyfel een van die diere wat die meeste emosie opwek, veral onder diegene wat hulself as antijagters of selfs diereregte-aktiviste bestempel. Die internet is besaai met stories van “jagters” wat na bewering verantwoordelik is vir die feit dat olifante byna oral in Afrika waar hulle voorkom, kritiek bedreig is, asook hoe daar ’n eeu of selfs langer gelede minstens drie keer meer olifante in Afrika was as vandag.

Sommige feite kan egter gemanipuleer word om ’n prentjie te skets wat dalk nie heeltemal met die werklikheid ooreenstem nie. Kom ons kyk dus ter wille van duidelikheid na wat die realiteit op die grond is. Die eerste onderskeid wat ons moet tref, is dat daar twee verskillende subspesies van olifante in Afrika erken word, naamlik die savanna- of bosolifant (Loxodonta africana) en die woudolifant (Loxodonta cyclotis).

Volgens die meeste internetbronne is daar tans sowat 415 000 savanna-olifante in 37 Afrika-lande. Ongeveer 70% van hierdie bevolking word in Suider-Afrika aangetref, sowat 20% in Oos-Afrika, 6% in Sentraal-Afrika en 3% in Wes-Afrika. Die meerderheid van die 70%-bevolking in Suider-Afrika kom in die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied voor. Dit sluit lande soos Namibië, Zimbabwe en Botswana in. In teendeel, met nagenoeg 127 000 olifante is Botswana die tuiste van die grootste aantal olifante van enige land in Afrika.

Ek het vroeër genoem dat jagters soms vir die afname in olifantgetalle geblameer word. In dié verband is dit belangrik om ’n duidelike onderskeid te tref tussen verantwoordelike, goed bestuurde olifantjag aan die een kant en stropery aan die ander kant – veral goed georganiseerde stropery wat daarop gemik is om ivoor op groot skaal vir die onwettige mark te bekom.

SUIDER-AFRIKA

Botswana met sy byna 127 000 olifante het ’n CITES-kwota van slegs 410 olifante per jaar. Hierdie diere word selektief gejag met die klem op ouer bulle wat reeds hul gene tot die poel bygedra het. Die verskil wat hierdie 410 olifante aan Botswana se olifantbevolking maak, is dus onbeduidend. Botswana se olifantprobleem is sodanig dat konfrontasies tussen mense, wat ’n bestaan in landelike gebiede maak, en olifante amper daagliks plaasvind. Die groot getal olifante is nie net ’n las op die habitat nie, maar vernietig ook gereeld gewasse soos mielies in hul omswerwinge op soek na kos.

Volgens die mees onlangse sensus wat uit 2022 dateer, het Namibië ’n olifantbevolking van ongeveer 24 000 diere. Dit is ’n beduidende toename van die 7 500 olifante wat in dié land teenwoordig was toe dit in 1990 onafhanklikheid verkry het. Die grootste konsentrasie olifante in Namibië word in die Zambezi-streek (voorheen die Caprivi-strook genoem) in die noorde van die land aangetref, met die tweede grootste bevolking wat in die Nyae-Nyae-bewaringsgebied en die Khaudom Nasionale Park voorkom.

Namibië se CITES-kwota vir olifante is 90 diere per jaar, wat weereens prakties weglaatbaar is, gegewe dié land se totale bevolking van byna 24 000 olifante. Net soos in Zimbabwe, word olifante kommersieel gejag en die vleis word as ’n welkome proteïenbron onder plaaslike gemeenskappe versprei.

Daar is steeds groot ivoordraers wat in nasionale parke en bewaringsgebiede rondloop. Hierdie olifant is naby Satara in die Kruger Nasionale Park afgeneem. FOTO: SONETT VAN WYK

 

In Suid-Afrika word olifante hoofsaaklik in die groot natuurreservate langs die Krugerwildtuin gejag. Verskillende kategorieë lisensies word toegelaat. Daar is ’n beperking op die gewig van die ivoor, gebaseer op die ouderdomskategorie van die individuele olifant wat gejag mag word. Suid-Afrika het ’n CITES-toewysing van 150 olifante per jaar en op hierdie stadium mag slegs olifantbulle hier gejag word.

Zimbabwe se CITES-kwota is 500 olifante per jaar, maar met ’n geraamde olifantbevolking van 82 000 maak hierdie 500 olifante feitlik geen verskil nie. Soos in Botswana, is daar grootskaalse konflik tussen olifante en mense in landelike gebiede en verskeie olifante word jaarliks as sogenaamde probleemdiere geskiet. Zimbabwe het ook ’n stelsel waarvolgens tandlose koeie gejag mag word in ’n poging om dié ongewenste geen om te keer. ’n Aantal lisensies word ook jaarliks beskikbaar gestel vir wat as nie-trofee-olifantbulle bekendstaan. Die plaaslike bevolking waar hierdie diere gejag word, benut die vleis en die ivoor is die staat se eiendom.

Mosambiek se olifantbevolking het drasties afgeneem as gevolg van onbeheerde stropery tydens dié land se burgeroorlog. Dit is vandag die tuiste van sowat 11 000 olifante, waarvan die meerderheid in die Limpopo Nasionale Park en die uitgestrekte Niassa Natuurreservaat in Noord-Mosambiek voorkom. Mosambiek het ’n CITES-kwota van 100 diere per jaar.

Tanzanië is ’n land wat ook histories met groot ivoordraers geassosieer word. In 1974 het dit na raming 316 000 olifante gehad, maar weens onwettige stropery het die aantal olifante teen ongeveer 2010 ’n laagtepunt van sowat 43 000 diere bereik. Vandag is daar ’n geskatte 60 000-80 000 olifante in Tanzanië. Die land se jaarlikse CITES-olifantkwota is 200 diere.

Zambië is nóg ’n land waar olifante en swartrenosters erg onder stropery deurgeloop het. In die vroeë 1970’s het meer as 200 000 olifante daar voorgekom. Voortgesette stropery het egter sy tol geëis en teen die laat 1980’s was daar slegs sowat 20 000 olifante in Zambië oor. Vandag huisves dit ongeveer 27 000 olifante, hoofsaaklik in die Luangwavallei en Kafue Nasionale Park. Die land se jaarlikse CITES-kwota is ’n beskeie 80 olifante.

Olifante is baie lief vir water, soos hierdie bul in die Kruger Nasionale Park duidelik wys. FOTO: HERMIEN GROBLER

 

ANDER DELE VAN AFRIKA

Die olifant se status in ander dele van Afrika is egter ’n perd van ’n ander kleur. Die Sentraal-Afrikaanse Republiek was tradisioneel ’n topbestemming vir olifantjagters en talle van dié land se enorme ivoordraers het die rekordboeke gehaal. Sedert die vroeë 1980’s het bendes stropers uit Soedan egter hierdie land se olifante (sowel as ander groot soogdiere soos seekoeie) feitlik uitgewis. Vandag is dit ’n rare gebeurtenis om ’n olifantspoor in die Sentraal-Afrikaanse Republiek se uitgestrekte jagvelde teë te kom.

Kenia was ook bekend vir sy groot ivoordraers. Nadat jag in 1977 daar verbied is, het stropers vinnig die konsessiegebiede en jagvelde, wat voorheen noukeurig deur jagondernemers bewaak is, binnegeval. Die land se olifantbevolking het tussen 1973 en 1989 met ’n angswekkende 85% afgeneem – van 130 000 tot slegs sowat 16 000 diere. Hierdie dramatiese afname kan volkome toegeskryf word aan onwettige stropery aangesien olifantjag in 1973 in Kenia verbied is en jag in die algemeen in 1977. Vandag het die land ongeveer 36 000 olifante.

Die woudolifant word, in skrille teenstelling met die savanna-olifant, kritiek bedreig. Hierdie olifante word in die woude van Sentraal- en Wes-Afrika aangetref en vir vleis en ivoor gejag. Benewens stropery, is grootskaalse ontbossing en die gepaardgaande habitatverlies ook ’n groot bedreiging. Woudolifante se getalle het tussen 2002 en 2011 met ’n verstommende 62% gedaal, tesame met die verlies van byna 30% van hul woudhabitat.

Alhoewel olifante sterk emosie by mense ontlok, is dit duidelik dat die wettige en oordeelkundige jag van olifante in Afrika geen negatiewe impak op hul bevolkings het nie. Dit gee grondeienaars die geleentheid om die groot koste van olifanteienaarskap te verhaal en inkomste te genereer, wat voortgesette grondgebruik, naamlik biodiversiteitsbewaring, regverdig.

Wanneer gemeenskappe wat langs bewaringsgebiede woon geen waarde aan wilde diere heg nie en in konflik kom met diere wat hul gewasse en woonplekke vernietig, begin hulle die wild kwalik neem en dít wakker stropery aan. Ongelukkig gee stropers – die grootste enkele bedreiging vir die olifant, tesame met veranderinge in grondgebruik – geen aandag aan CITES-kwotas nie. Die wettige en oordeelkundige jag van olifante is dus allesbehalwe ’n bedreiging vir Afrika se olifante.

HABITATVERLIES

Ondanks die afname in olifantgetalle weens stropery, is daar nog ’n baie belangrike faktor wat in ag geneem moet word: habitatverlies, waarna eintlik meer gepas as grondgebruikverandering verwys moet word.

Volgens die Wêreld-Natuur-fonds (WWF) was daar in 1979 ongeveer 3 000 000 vierkante myl grond beskikbaar vir olifante in Afrika. Teen 2007 het die habitat vir olifante egter dramaties gekrimp tot ongeveer 1 000 000 vierkante myl.

Met die verlies aan habitat het die realiteit ontstaan dat groter troppe olifante in areas met beperkte grondgebied gehuisves moet word. Dit plaas groter druk op die habitat en in talle van Suider-Afrika se natuurreservate en nasionale parke veroorsaak olifante ’n beduidende negatiewe impak op die biodiversiteit. Suid-Afrika se Groter Krugerwildtuin huisves vandag ’n trop olifante wat volgens die geraadpleegde bron tussen 32 000 en 45 000 diere wissel. Dit is ses keer meer olifante as wat dié gebied voor die 1995-verbod op olifantbestuur gehuisves het – ’n aansienlike probleem vir die Krugerwildtuin.

In Botswana (die land met die grootste olifantbevolking in Afrika) is gebiede soos die Chobe Nasionale Park in Noord-Botswana al vergelyk met die gevolge van ’n kernontploffing. Die Chobe-bosbok en talle ander voëlspesies wat eens volop in hierdie park se rivierhabitat was, is nou nie meer in natuurlike digthede teenwoordig nie. Zimbabwe se Hwange Nasionale Park, die tuiste van meer as 50 000 olifante, staar ’n soortgelyke krisis in die gesig. Suid-Afrika se Madikwe-wildreservaat is ongelukkig ’n goeie voorbeeld van wat kan gebeur as olifantbevolkings nie bestuur word nie. Weens oorbeweiding deur die oorbevolking groot diere in hierdie reservaat, het verskeie olifante en ander groot diere soos renosters en buffels só verswak weens ’n weidingtekort dat hulle van kant gemaak moes word.

Alhoewel die woudolifant kritiek bedreig is en die savanna-olifant onder druk is in sekere Afrika-lande, kan die savanna-olifant glad nie as bedreig geklassifiseer word nie. Inteendeel, Suider-Afrika het te veel olifante vir die beskikbare olifanthabitat. Dit is egter opmerklik dat die toenemende verlies aan habitat nie dieselfde emosie by mense ontlok as die groot ivoordraer of twee wat jaarliks gejag word nie (wettig en teen ’n aansienlike fooi). Miskien is dit tyd dat hierdie ingesteldheid verander – ter wille van die olifante.

Related Articles

Hunting quotas gazetted for elephant, black rhino and leopard Reloading – from humble beginnings to an exact science