
15 September 2026
Die kwakertjie: Harde werk vir ’n spoggerige fluitjie
DEUR KOBUS DE KOCK – Die geelbekkie se roep het eensaam oor die vlei weggerol. Skoon en helder in die laaste lig van die dag. Duidelik genoeg dat sy maters sal wil kom kyk, het ek myself probeer oortuig.

’n Paar winkelkwakers. Hulle word dikwels uit sintetiese materiaal of uit kombinasies van hout en harde plastiek gemaak.
So tussen al die lawaai van die ander voëls deur wat tot ruste wou kom. ’n Paar fisante, kwartels, raasgat-hadidas, bloukrane en skoorsteenveërs.
Die geelbekkie het baie naby geklink. Sommer hier tussen my voete, het ek my verbeel. Tussen die biesies en graspolle, soekend na sy maters. Beslis ’n eensame roep wat uitreik na enige watervoël, rooibekkies en slopeende. Dalk sal ’n paar kolganse, kopereende en wildemakoue ook hoor. Dis hulle plek dié.
Nóg ’n paar oomblikke, dan sal hulle vir seker kom. Miskien nie na die eensame geelbekkie toe nie, maar na die wye, veilige waters van die pan. Die geelbekkie se roep was egter vir my mooi. Ek het my bes gedoen en ten minste het dit ’n lekker atmosfeer geskep.
Dalk het ek nie heeltemal soos die ervare manne geklink nie; nie heeltemal van kompetisiegehalte nie, maar ek het my bes gedoen. Ons moet almal iewers begin.
Een kampioen het gesê ’n mallard se roep sal alle eende lok. Watervoëls is groepsgebonde. Hulle sit dikwels in ’n deurmekaarspul van verskillende spesies. Maar sal ’n geelbek ’n kolgans trek? Dalk val ’n enkeling vir die noodroep van nog ’n enkeling. “Kom sit hier, ou tjomma. Lekker beskut hier agter die biesiepolle teen die koue wind.”
Ek glo egter nie die trosse kolganse wat soms by hulle dosyne invlieg, gaan hulle aan ’n enkele geelbek steur nie. Nóg minder die groot ou platpote, die stil wildemakoue. Met dikgevrete kroppe en moeg van teen die wind in baklei, soek hulle net rusplek vir hulle swaar lywe. Werk die kwakers ooit hier by ons?
EERSTE POGING
Die kwakertjie was vir my ekstra mooi, want dit was my eerste poging wat darem so half en half na ’n eend geklink het. Ek het dit uit olienhout gedraai. Ek het na al die wêreldkampioene se praatjies geluister en na die demonstrasies gekyk. Hoe gemaak, wat en wanneer.
Die Amerikaners raak heel besimpeld oor die onderwerp, net soos met hulle handgemaakte lokkers. My maat in Nieu-Seeland sê dis dieselfde daar. Hy het vir my ’n skakel van hulle jaarlikse kompetisie gestuur. Briljante roepery. Briljante akteurs ook.
Maar werk die goed ooit? Hulle skuilings, vertel hy my, is dikwels langs waters omring deur verskeie ander skuilings. Die kompetisie is sterk en iets moet vir jou ’n voordeel bewerk om hulle na jou toe te trek.
Lokkers en kwakers is ’n móét; baie meer daar as hier. Die lokkerding het ek al uitgewerk – dit werk net somtyds, om dit eenvoudig te stel. Dis meestal maar ’n groot gesukkel en ’n kwessie van oor en oor probeer totdat alles eendag reg is; wanneer al die planete in lyn is en dit meteoriete reën.
Of die kwakerding egter werk, weet ek eerlikwaar nog nie. Ek glo alles moet reg wees: kamoeflering, lokkers, roepers. Een gaan nie in isolasie ’n groot verskil maak nie.

’n Paar van my eerste pogings om kwakers uit hout te draai.
KWAKERS: HOUT OF SINTETIES?
Ek kan nie meer onthou waar ek my eerste kwakertjie gekoop het nie. Dit is van hout; ’n kleinerige, 15 cm lange Faulk’s WA-33 Duck Call van Lake Charles, LA. Op die etiket staan: “twice international champ”. Die kwaker het die jagter gevang, net soos swartbaarskunsaas die hengelaars. Hulle lyk so mooi in jou hengelkas.
Deesdae sien ek kwakers word dikwels uit sintetiese materiaal gemaak. Of uit kombinasies van hout en harde plastiek – stowwe soos poliuretaan, polikarbonaat en verskeie ander akriliese materiale. Ek neem aan dit is voordelig vir die nat toestande waarin die goed gebruik word. En speel jy lank genoeg in die vleie, gaan jy een of ander tyd nat word.
Vra maar vir my pêl Simon; hy’t gesien hoe strompel ek in die donker rond. Sonder ’n koplig, wat ek in die bakkie vergeet het, was dit net ’n kwessie van tyd voor ek in ’n sloot beland.
Die glibberige modder al langs die kanaaltjies af duld nie teëpraat nie. Hoe meer jy spartel, hoe dieper sak jy af. Nêrens is daar vastrapplek nie. Al genade is om af te gly tot heel onder en dan op te staan. Iewers lê daar nog van my patrone en oproes in die water.
Ek en die kwakertjie was ewe nat. Ma het my nie verder as die kombuis laat kom nie: “Jy drup die wêreld nat. Trek net daar uit!”
Een of ander vorm van sintetiese materiaal maak dus seker sin. Selfs die spoeg van die aanhoudende geblaas maak dat die tongetjies begin “hang” en stil raak. Ek neem aan die “rietjie” word deur die slym vasgeplak.
Die veelkleurige, nuwe kwakertjies is vir seker mooi, daar’s geen twyfel aan nie. Hout bly egter vir my outentiek, warmer en meer oorspronklik. Soos mooi olienhout. Ek is maar uit die oue doos!
Die Amerikaners spog met Cocobolo (uit Sentraal-Amerika iewers), maar hulle het nog nie met ’n stukkie fyngrein-Colesberg-olienhout gewerk nie. Dit laat jou tone omkrul!
Daarna het ek heelparty kwakers present gekry van manne wat al vergeet het van dié speelgoed in hulle laaie. My teorie is dat dít is waar meeste van die kwakers eindig, stof vergaar en uiteindelik begrawe word. Dalk soos ek wat ’n paar keer probeer sonder onmiddellike sukses en dan die spul begin betwyfel.
Dis makliker die jagveld in sonder ’n kwakertjie wat hinderlik voor jou bors rondswaai. Dis terloops hoe jy met hom werk – om jou nek aan ’n koord sodat hy altyd byderhand is en jy weet waar hy is. Jy kan hom dan net laat los wanneer jy dalk moet skiet. In jou baadjiesak werk ook nie; val hy uit tussen die gras in, is hy weg.
’n Kwakertjie wat so om jou nek hang, lyk ook indrukwekkend op foto’s. “It helps to authenticate one’s aura,” sê my vriend Colin. Uiteindelik bly hulle dan ongelukkig eenvoudig by die huis.
INHEEMSE HOUT
In Suid-Afrika het ons ’n wonderlike verskeidenheid houtsoorte wat jou uitdaag om hulle te gebruik. Stinkhout is seker die bekendste. So ook geelhout, boekenhout en ysterhout, om maar ’n paar te noem.
Moet ook nie van witpeer, saffraan, vlier, essenhout, assegaai, rooiels, kiaat, moepel en mingerhout, melkhout en hardepeer vergeet nie. Of wat van ’n mooi stukkie waboom? Die name alleen is so mooi, jy kan nie ophou “proe” daaraan nie.
Die lekker ding is dat jy nie groot stukke nodig het nie. Uiteindelik kan jy ’n voltooide kwakertjie in jou hand toevou. Ek praat nou van mý hand, nie Eben Etzebeth s’n nie!

’n Kwaker en bypassende fluitjie van olienhout.
MAAK JOU EIE KWAKERTJIE
YouTube het letterlik duisende video’s wat in groot detail verduidelik hoe om kwakertjies te maak. Dis dus onnodig om alles weer hier te herhaal. Gaan loer gerus daar, maar wees gewaarsku: Dis verslawend!
Die vaatjie (barrel) is die gedeelte waarin jy blaas en is maklik om te draai. Blaas van jou diafragma af, nie uit jou mond uit met bolwange nie – só leer die kenners.
Feitlik enigiets sal werk. Die punt van ’n gemsbokhoring maak ’n skaflike houer. Drew Pritchard van Salvage Hunters-faam sal hou van die “volkskuns”-aspek van só ’n gemsbok-kwakertjie.
Alhoewel my passie inheemse houtsoorte is, moet ek bieg dat peerhout een van die mooiste soorte draaihout is waarmee ek nog gewerk het. Ek het dit gesny van ’n boom in Tesselaarsdal. (“Gansjag met ’n ompad”, SA Jagter/Hunter-tydskrif, Maart/April 2025).
Dit het ’n fyn grein wat ’n mens kan afwerk en poleer tot ’n satynsagte glans. Werklik iets besonders. Ek brand om ’n fluitjie en kwakertjie van peerhout te maak en sal weer ’n stukkie moet gaan soek.

Remington en Frans met sy “juweliersware” om die nek. Die foto spreek van die hegte band tussen die twee.
Die insetsel met die klankbord en tongetjie wat die geluid maak, is die moeilike gedeeltes. Temperamenteel, met kundige en fyn verstellings wat vereis word, het dit my soms moedeloos. My eerste pogings kan slegs beskryf word as stil swane of ’n ligte wittebroodswindjie. Die verwurgde brulpadda was vir ’n tyd die naaste wat ek aan ’n geelbekeend kon kom.
Alle klaar vervaardigde onderdele en gereedskappies kan uit Amerika bestel word: van volledige insetsels tot saaggidse en knyppaste, asook kurk en tongetjies. Maar dis dalk kroek as jy wil beweer jy het alles self gemaak.
Drink eerder ’n bottel wyn en gebruik die kurk om die tongetjie vas te knyp. Ek dink rooiwynproppe werk die beste. Jy moet hom kou, sê hulle; die spoeg laat hom makliker inglip.
Laastens rond jy die kwakertjie en fluitjie af met ’n mooi koord en ’n paar spesiale knope. ’n Tibettaanse slangknoopvlegsel lyk spoggerig – afgesien van die mooi naam, is dit baie funksioneel. Knope alleen kan jou wegvoer diep in ’n wonderwêreld in.
Draai sommer saam met die kwakertjie ook ’n bypassende fluitjie van dieselfde houtsoort. Ek hoor graag van jagters wat in Suid-Afrika suksesvol met die roepers is.
En nou onthou ek skielik van ’n paar groot wabome teen die berg. Dalk moet ek net gaan kyk of ’n tak of twee nie dalk gesnoei moet word nie…
Lood in die lug!























