Hurry, SA National Parks Week 2026 is almost over

9 September 2026

Wingshooting: Is fair chase for the birds?

9 September 2026

9 September 2026

Die amper vergete .250 Savage

DEUR STEPHAN MARAIS – Daar is nog vuur in ’n ou gunsteling.

Stephan Marais se FN Deluxe in .250 Savage.

 

Die .250 Savage, ook bekend as die .250-3000, is deur Charles Newton ontwerp vir Savage Arms Company se Model 99-hefboomaksiegeweer en is in 1915 bekendgestel. Die kaliber is .257″ (oftewel 6,3 mm) en was die eerste kommersiële kaliber wat die 3 000 vps-grens kon oorsteek, vandaar die naam .250-3000.

Newton het eintlik ’n 100 grein-koeël teen ongeveer 2 800 vps verkies, maar Savage wou die 3 000 vps-kerf vir bemarking gebruik en het daarom aangedring op ’n 87 grein-koeël.

Vir die jag van ongediertes was die .250 Savage ’n onmiddellike sukses, maar soms het die 87 grein-koeëls nie voldoende op takbokgrootte diere gepenetreer nie. Later het die gebruik van 100 grein-koeëls meer algemeen geword en die .250 Savage se gewildheid het toegeneem. Verskeie vervaardigers soos Savage, Winchester, Mauser, Ruger en Remington het oor die jare grendelaksiegewere in dié kaliber aangebied. Die groefdraai is ook verander van 1:14″, wat vir 87 grein-koeëls bedoel was, na 1:10″, wat koeëls tot 120 grein kan stabiliseer.

Die vlakvark wat Stephan Marais met sy FN in .250 Savage geskiet het.

 

NUWER EN WARMER OPPOSISIE

Met die koms van die vinniger .257 Roberts het die .250 Savage se aansien ietwat getaan, maar dit was waarskynlik die loodsing van die .243 Winchester en 6mm Remington in die middel 1950’s wat die .250 Savage die meeste skade berokken het.

Wanneer ons 87 grein-koeëls in die twee kalibers laai en die trajekte vergelyk, sien ons dat die kombinasie van ’n beter ballistiese koëffisiënt (BC) en hoër trompsnelheid tot gevolg het dat die .243 Winchester 5,2 cm minder val op 300 meter as die .250 Savage. Die .243 se koeëls word ook minder deur wind van koers af gedruk, en ’n mens kan sien waarom dié kaliber so geliefd is vir springbokke en blesbokke op die vlaktes.

DIE BOS VS DIE VLAKTES

Terwyl die .243 Winchester ongetwyfeld beter is as ’n vlaktekaliber, is die .250 Savage in my opinie ’n effens beter boskaliber. Die bedeesde spoed waarteen die 120 grein-koeël die loop verlaat, is voldoende vir skote tot op 200 meter. Dit verseker goeie koeëlprestasie met gewone loodkernkoeëls en beperk ook vleisskade.

’n Ander onderskatte pluspunt van die .250 Savage is die lae drukvlakke waarteen dit werk. Die maksimum druk word aangegee as 45 000 CUP teenoor die 52 000 CUP van die .243 Winchester. Laer drukvlakke beteken oor die algemeen langer looplewe – ’n belangrike voordeel in Suid-Afrika, waar die vervanging van lope ’n administratiewe nagmerrie kan wees.

Laastens verdien die .250 Savage ook die dankbaarheid van liefhebbers van die .22-250 Remington, wat geskep is deur die .250 Savage af te nek na .224″, oftewel 5,56 mm.

Ek het nog altyd belanggestel in kalibers wat nie so algemeen is nie en was op soek na iets aan die kleiner kant van die kaliberspektrum vir die jag van rooibokke, springbokke en vlakvarke tot op 200 meter. Die 6×45, ’n .223 Remington wat na 6 mm opgenek is, was ’n aantreklike opsie, maar gewere in dié kaliber is skaars.

Toe ek die aanlynadvertensie vir ’n FN in .250 Savage sien, het ek ’n rukkie gedink en deurgery Stellenbosch toe. Die geweer was in ’n goeie toestand en ná ’n paar minute se wik en weeg het ek dit gekoop.

Toe die lisensie goedgekeur is, kon ek die geweer rustig deurkyk. Die spesifieke model was die FN Deluxe met pragtige, klassieke lyne. Dit was met ’n Nikko Sterling 4×32-teleskoop toegerus. Behalwe dat 4x-vergroting nie meer voldoende is vir my oë nie, was die teleskoop ook heeltemal te ver vorentoe gemonteer om ’n volle beeld te verkry.

Die monterings het nie toegelaat dat dié teleskoop, of ’n ou Leupold VX1 4-12×40 mm wat ek in my kas gehad het, verder teruggeskuif kon word nie. Ek moes toe geweersmid toe vir nuwe basisse en ringe, maar ten minste het die Leupold nou mooi gepas en was die beeld helder en sonder ’n swart ring rondom.

Nou het die soektog na matryse, koeëls en doppe begin. Dit het ’n rukkie geneem om matryse op te spoor, maar ek kon gelukkig ’n Lee-stel by ’n handelaar in Suid-Afrika koop. Koeëls van .257-kaliber was minder beskikbaar as wat ek verwag het, maar 110 grein Hornady ELD-X’e was verkrygbaar.

PLAN B VIR DOPPE

Doppe was onbekombaar. Die slim manne op die internet het egter gereken dis kinderspeletjies om doppe van .22-250 Remington- of 6.5 Creedmoor-doppe te maak. Ek was nie so seker nie.

Met geen ander uitweg nie, het ek ’n pak Hornady .22-250 Remington-doppe gekoop. Ek het die nekke behoorlik met grafietpoeier behandel en die wande liggies met was gesmeer. Met ’n effense beklemming in my keel het ek die eerste dop in die vollengtematrys ingevoer, wat toe sonder enige drama weer uitgekom het. Die res het amper teleurstellend maklik deur die matrys gegaan.

Hulle lengte was 48,1 mm, terwyl die maksimum lengte vir die .250 Savage 48,54 mm is.

Volgens Nosler se webwerf is Varget-dryfmiddel ’n goeie keuse in die .250 Savage, veral vir 110 grein-koeëls. Ek het ’n handvol patrone met die beginlading gelaai en daarna groepe van vyf patrone geskiet, met die ladings in inkremente van ’n halwe grein verhoog.

Op die skietbaan het twee skote op 25 meter gewys dat die geweer in lyn was, maar die hoogte was nie reg nie. Die teleskoop was reeds op sy maksimum hoogteverstelling.

Met geen ander opsie nie, het ek drie skote op 100 meter geskiet. Twee het mekaar gesny en die derde het ’n entjie weg geland, vir ’n groepering van omtrent 15 mm. Nog drie skote met die beginlading het basies dieselfde resultate gelewer. Ek was baie verlig dat ek my nie ’n kat in die sak gekoop het nie.

Die gemiddelde spoed was 2 380 vps, amper presies wat Nosler aandui vir die beginlading van 28,5 grein Varget. Dit was vir my ’n bietjie aan die lae kant, en ek het die hoër ladings getoets.

Die groepe het toegeneem totdat dit op 30,5 grein mooi toegemaak het vir ’n drieskoot-groepering van 20 mm teen 2 546 vps. Die laaste twee skote het die vyfskoot-groepering op 23 mm gebring.

Dit is ook die lading wat Nosler as die akkuraatste aandui, en ek het besluit om daarmee te volstaan. Die groeperings was egter almal omtrent 5″ laer as wat ek wou hê. Met die teleskoop wat nie verder opwaarts kon verstel nie, het ek met gemengde gevoelens huiswaarts gekeer. Nog ’n besoek aan die geweersmid was my voorland.

Die oplossing was ’n inlegsel (shim) onder die agterste teleskoopring. Nou kon ek die geweer instel om 2,75″ hoog te skiet op 100 meter, wat my in die kol laat skiet op 200 meter en 12″ laag op 300 meter.

My teleskoop het twee kolletjies op die vertikale kruishaar vir langer afstande. Met my huidige lading korrespondeer die eerste kolletjie met 266 meter, die tweede met 336 meter, en waar die kruishaar dik raak, met 409 meter.

Die FN in .250 Savage het vinnig diep in my hart gekruip. Die geweer is lig en baie goed gebalanseerd. Alles is hout en staal soos ek daarvan hou. Die terugskop is amper lagwekkend en die geweer lawaai nie onnodig baie nie.

(Hierdie is ’n verkorte weergawe van die artikel ‘Die amper vergete .250 Savage’ wat in SA Jagter/Hunter, Augustus 2025)

Related Articles

Hurry, SA National Parks Week 2026 is almost over Wingshooting: Is fair chase for the birds?