MAGNUM Sept-Oct 2026

14 September 2026

A Boertjie’s walk and stalk Montana turkey hunt

14 September 2026

14 September 2026

Meer as 95% van ‘spinnekopbyte’ is nie spinnekopbyte nie

DEUR JOHAN MARAIS – Dit is altyd vir my interessant dat soveel mense ’n ewige vrees vir spinnekoppe het. Tog het ons geen dodelike spinnekoppe in Suid-Afrika nie en van die meer as 2 280 spesies wat reeds beskryf is, is bitter min van mediese belang. Werklike spinnekopbyte is uiters skaars en meer as 95% van sogenaamde byte is nie deur ’n spinnekop veroorsaak nie.

Bruin knopiespinnekop. FOTO: ASHLEY KEMP

 

Alle spinnekoppe is nie sommer geneig om mense te byt nie. Die meeste byte vind plaas wanneer ’n spinnekop per ongeluk vasgedruk word, soos in ’n slaapsak of wanneer jy jou afdroog en daar ’n spinnekop in jou handdoek wegkruip. Gewoonlik is dit dan ook net een byt, nie vyf of ses nie.

Baie mense word wakker met iets wat soos ’n bytplek lyk en dink onmiddellik dat dit ’n spinnekopbyt is, of hulle het ’n klein wond wat mettertyd vererger en begin sweer. Dit kan natuurlik ’n spinnekopbyt wees, maar dis gewoonlik ’n sekondêre infeksie van ’n oop wond, insekbyt, doring, splinter of selfs ’n muskietbyt wat met vuil naels gekrap is.

Daar bestaan geen toets in Suid-Afrika vir spinnekopgif nie. Dit maak dit onmoontlik vir ’n mediese dokter om ’n spinnekopbyt te bevestig deur net daarna te kyk of selfs as ’n bloedmonster geneem word. Sulke wonde moet soos enige sekondêre infeksie behandel word en antibiotika kan dalk voorgeskryf word.

Daar is hoofsaaklik vier spinnekoppe wat van mediese belang is. Die algemeenste is die bruin knopiespinnekop. Dit kan maklik uitgeken word aan die rooi uurglas op die pens en die klein, ronde eiersak met stekels. Dit is ’n algemene spinnekop en word in so te sê elke tuin aangetref, gewoonlik in ’n donker hoekie soos binne ’n elektriese boks, swembadpomp of selfs onder vensterbanke of op tuinmeubels.

Die wyfie bly in ’n web waar sy haar kos vang. Indien sy versteur word, val sy dikwels tot op die grond en rol in ’n bondeltjie. Byte is skaars. Hierdie spinnekop se gif is neurotoksies en kan ná ’n byt dalk brand. Die oorwegende simptome om na op te let is sweetdruppels op die voorkop wat gou weer verskyn wanneer die voorkop afgevee word. Slagoffers kla ook oor pyn, veral in die omgewing van die maag. Hospitalisering is selde nodig en die meeste slagoffers herstel ten volle binne ’n dag of twee.

Swart knopiespinnekop. FOTO: JOHAN MARAIS

 

Die swart knopiespinnekop se gif is heelwat sterker, maar nie lewensgevaarlik nie. Dit het nie die uurglas op die pens nie, maar gewoonlik bietjie rooi of pers bo-op die agterlyf aan die agterkant. Die eiersak is rond sonder stekels, ietwat groter as ’n ertjie.

Dié spinnekop word selde in voorstedelike dele aangetref en verkies lae bossies in die veld waar dit ’n webnes op die grond maak. Byte is uiters skaars, behalwe in die Wes-Kaap waar diegene wat druiwe pluk of priële snoei soms gebyt word.

Die simptome stem ooreen met die byt van ’n bruin knopiespinnekop, maar is ietwat erger en sommige slagoffers word in ’n hospitaal met teengif behandel. Dieselfde teengif werk ook vir die bruin knopiespinnekop se byt, maar dit is selde nodig.

Vioolspinnekop. FOTO: JOHAN MARAIS

 

Die vioolspinnekop is enkellopend en woon nie in ’n web nie. Ek kry hulle dikwels onder stompe en klippe sowel as in grotte en ou mynskagte. Die gif is sitotoksies en kan weefselskade aanrig wat dan soos enige wond aandag verg. Daar is geen teengif vir hierdie spinnekop se byt nie.

Sakspinnekop. FOTO: ASHLEY KEMP

 

Die sakspinnekop is gewoonlik ligbruin met donker monddele. Hulle het die gewoonte om ’n sakkie te spin, soms in gordyne – vandaar die naam. Daar word oor dié spinnekop se gif gedebatteer. In die meeste byte is daar geen simptome nie, maar in sommige gevalle kom effense weefselskade voor.

Bogenoemde vier spinnekoppe is die enigstes wat as medies belangrik beskou word; die res hou geen gevaar vir die mens in nie. Die sesoogsandspinnekop het blykbaar ook ’n redelike sterk gif, maar geen byte is nog aangeteken nie.

Navrae: Afrika-slangbytinstituut, www.africansnakebiteinstitute.com, [email protected]

Related Articles

MAGNUM Sept-Oct 2026 A Boertjie’s walk and stalk Montana turkey hunt