SA’s free-roaming cheetahs: fewer than thought, more important than ever

15 September 2026

From the plains to the savannah – the .243 Winchester

16 September 2026

16 September 2026

Is daar iets soos ’n hartsgeweer?

DEUR FRANS DE DEKKER – Indien jy as ’n kaalvoetseuntjie met ’n ou BSA-windbuks deur ’n Vrystaatse bloekomplantasie gestap het om torries, vinke, mossies of spreeus te probeer skiet, weet jy dat jy sedert daardie tyd droom van ’n geweer wat nie eintlik kan misskiet nie.

Die hartsgeweer, sy eienaar en die 100ste koedoe wat voor dié geweer geswig het.

 

My hartsgeweer se storie begin baie jare later, rondom 1992, toe my destydse swaer my een aand bel en vertel hulle verkoop 7,62-billets teen R62 ’n loop. Hy het destyds by ’n filiaal van Krygkor gewerk. Die lope was gehamer en behoorlik gelisensieer vir private kopers. Die billets was omtrent 60 mm dik om die konstante vuur van 7,62-ammunisie te kon hanteer, want die toevoer vir die loop het met ’n Browning-masjiengeweersluitstuk en belt gekom.

WAAR ’N WIL IS, IS ’N WEG

Om die prys in perspektief te stel: Ek het destyds omtrent R1 500 per maand verdien en moes vir my vrou en drie kinders sorg. R62 was dus ’n sak vol geld en ek moes die projek aanpak sonder dat my vrou daarvan uitvind. Ek het dus ingekoop omdat ek steeds van ’n hartsgeweer gedroom het.

Hierdie transaksie het vir die volgende week onder die radar gebly, want ek het geweet ek gaan my skuld moet bely so tussen die verpligtinge soos skoolfooie en -klere, draadjies, Adidas-tekkies en drama- en kunsklasse deur. My vrou sou natuurlik dadelik vra waar die res van die geweer vandaan gaan kom as ek nou slegs die loop gekoop het. Sy was ’n plaasmeisie en sou dus nie sommer enige storie glo nie!

Die volgende week het my swaer weer gebel om te bevestig dat hy die lope gekoop het en dat ek hom nou R62 skuld. Hy het voorgestel dat hy my koste vir die loop sou dra as ek kon reël dat die lope na agtkantige lope toe gemasjineer word en daarvoor betaal. Wat hy nié geweet het nie, was dat ek net twee maande tevore ’n nuwe boekhoukliënt gekry het wat ’n groot werkswinkel met ’n verskeidenheid metaalwerkmasjiene besit.

Toe ek my kliënt die volgende week sien, het ek gevra of hy dit sou doen en wat dit sou kos. Hy wou egter eers die staal sien. My swaer en sy gesin het ’n naweek kom kuier en die lope saambring. My kliënt kon daarna die soort staal identifiseer. Hy het gereken die lope benodig elk sowat sewe ure se werk sodat die snywerk perfek kon wees. Daarvoor moes ons ’n Saterdag en ’n Sondag afstaan. Die koste? Ek moes bloot bier en vleis bring om te braai en by hom kuier terwyl die masjiene loop. Vir my was dit natuurlik ’n wonderlike finansiële oplossing en ná daardie naweek het ek twee pragtige agtkantige lope gehad.

ONDERHANDELINGE MET DIE WAPENSMID

Daardie jare was daar net een wapensmid op Kroonstad. Ek het dadelik daar gaan inloer en met die eienaar oor die koste van ’n pasmaakgeweer gepraat. Nadat ek die lope vir hom gewys het, het ek verduidelik dat ek en my swaer ’n soort afbetalingsooreenkoms met hom wou aangaan. Hy was heel inskiklik, maar sy kwotasie van R5 800 per geweer het amper my hart laat staan! Hy het gereken dit sou omtrent vier maande neem om die gewere te maak – ons kon hom dus in vier paaiemente betaal.

Later het dinge maar begin uitrafel, want ’n wapensmid vat altyd langer, terwyl diegene met ’n beskeie salaris altyd langer neem om te betaal. Ek het my swaer laat weet dat hulle weer moes kom kuier, want die wapensmid wou ons opmeet vir die gewere se kolwe. Intussen het ek ingestem dat die houtkolwe van Turkse okkerneuthout sou wees, met gepakte lope en Timney-snellers met Mauser-aksies. Skielik het die prys met R500 elk gespring, maar ek het vir niemand gesê nie! My swaer het op ’n .300 Winchester Magnum besluit en ek op ’n .30-06 Springfield.

Ons het die wapensmid gereeld betaal en ek het twee maal per week gaan kyk hoe die gewere vorder. Uiteindelik het die stadium aangebreek waar die geweerbouer die gewere kon toets. En toe kom die eerste slegte nuus: My .30-06 se loop het nie groewe in die laaste 30 mm nie, wat sou beteken die loop moes korter gesny word. Gevolglik moes die korrel ook weer opgesit word, wat ’n week of wat by die afleweringstyd sou voeg.

Ek het ’n ou Bushnell-teleskoop gehad wat ek laat monteer het, en my swaer ’n Leupold. Die groot dag het nadergekom en ek het besluit om tot die naweek te wag sodat my swaer by kon wees om die gewere te toets. Dit was per slot van rekening ons gesamentlike projek.

Die naweek was egter ietwat teleurstellend, want die twee gewere het nie baie goed gegroepeer nie. Vir my geweer het ’n 168 grein PMP-koeël die beste gewerk, en vir my swaer s’n ’n 220 grein Norma. Teen dié tyd het ons vingers behoorlik gejeuk om die gewere op ’n jag te toets en te spog met die resultaat van ’n klomp maande se gewoel en werskaf.

 

JAGVELD TOE!

In Mei daardie jaar het ons in Namibië gaan jag. My swaer het sy kombi beskikbaar gestel en ek en twee van my vriende het ’n waentjie gehuur en die brandstof betaal. Ons viermanskap het teen 12:00 Saterdag uit Kroonstad vertrek vir die onvergeetlike jag. Ons het uiteindelik 15:00 die volgende dag op die jagplaas aangekom.

Met ’n beker koffie en beskuit in die hand moes ons die volgende oggend by die plaaseienaar hoor dit was die droogste in 30 jaar in daardie wêreld. Ons kon dit sien aan die klippe wat swart gebrand was en omtrent geen gras nie. Op pad na die gemsbokkamp met die jagvoertuig, het ’n rooikat tussen die klippe uitgespring en na die rantjie sowat 300 m verder laat spaander. Die eienaar het dadelik twee springbokke as beloning aangebied vir die skut wat die kat kon skiet. Drie gewere was dadelik oorgehaal.

Die rooikat het geweet hy verkeer in gevaar en was blitsvinnig op pad na die rantjie waar sy paadjie teen ’n 3 m-rotswand doodgeloop het. Ons gewere het al drie geblaf, maar net stofwolkies opgejaag en die kat was steeds op volle spoed. Versigtig het ek weer oorgehaal, sowat ’n meter bokant hom gemik en die sneller gedruk. Kolskoot! Dit was die hartsgeweer se eerste doodskoot en ek was die trotse eienaar van twee springbokke.

Die volgende dag het ons op die eienaar se bergplaas, wat teen die Namib-duine lê, gaan jag. Danksy die mis wat soms van die see af inkom, was daar nog redelik weiding in die kwaai droogte. Op pad soontoe het ek ’n brandmaer blesbok geskiet – ’n meer genadige einde as om van honger dood te gaan. Ons het pas by die eerste bergkamp ingery toe ons ’n koedoekoei teenkom. Dit was ’n moeilike skoot, maar ek het net onder haar ken ingemik. Toe die skoot klap, het sy pas oor die rantjie gekom en al skuifelend teen die helling afgerol tot teen die draad ongeveer 10 m van ons af. Dit was my hartsgeweer se eerste koedoe!

Daardie dag het drie van ons ’n koedoe elk platgetrek en die vierde jagter twee. Dié middag het ons dadelik die bokke begin bewerk. Teen 22:00 het alles tot ruste gekom, maar my swaertjie wou vort: “Manne, kom ons ry!”

Daardie jare was die grenspos 24 uur per dag oop en teen 04:00 die volgende oggend was ons in Upington. Dit was ’n klompie moeë manne wat ná die suksesvolle jagtog en lang reis uiteindelik weer veilig in Kroonstad aangekom het.

Ek het gereeld in die Graaff-Reinet-distrik begin jag en elke jaar tussen twee en vyf koedoes geskiet. Elke tweede jaar het ek met ’n ander groep manne in Pongola of Vryheid gejag. My familie het nooit biltong- of droëworstekorte gehad nie – ook nie ’n gebrek aan wildsvleis of koedoe-gortsop nie.

Rondom 1998 kon ons nie daar plek kry nie, maar het gelukkig vir Oggie Pringle leer ken, ’n jong Skot wat in die Bedford-omgewing se Winterberge geboer het.

Ek het vinnig twee groepe saamgestel sodat ek twee keer per jaar in dié pragtige wêreld kon gaan jag. Elke jaar het ek tussen twee en vier koedoes geskiet. Oor die jare het ons wonderlike jagte daar beleef. In 2023 was dit reeds die 25ste jaar wat ons by die Pringles gejag het. Dieselfde jaar het ek my 99ste koedoe in die Oos-Kaap platgetrek.

Ek wou graag hê my 100ste koedoe moes ’n mooi groot bul wees. Daardie jaar het ek op die eerste jag in die Oos-Kaap niks geskiet nie, want die bevel was dat as daar ’n groot bul staan, die skoot myne was.

Ek en my neef het selfs ’n koedoe in Kroonstad se distrik probeer jag, asook by ’n ander familielid wat aan die Valsrivier op familiegrond boer – ’n groot bul daar sou baie spesiaal wees. Hulle het my verskeie kere dadelik gebel as hulle die groot bul gewaar, maar teen die tyd wat ek daar aangekom het, was hy skoonveld. ’n Koedoe se vermoë om eenvoudig te verdwyn bly legendaries. Geen wonder die Engelse noem hom die grey ghost nie.

Toe ek op die ou end bang raak dat ek daardie jaar geen biltong gaan hê nie, het ek besluit dat die 100ste koedoe aan geen vereistes hoef te voldoen nie. Dit was dan ook ’n jong bul wat reg gestaan het. Die kersie op die koek was dat ek die bok by die Pringles geskiet het, waar ek die meeste van my 100 koedoes laat val het. Hierdie familie was so gaaf om dié spesiale bok aan my te skenk.

Die hartsgeweer se agtkantige loop, gemasjineer vir die prys van ’n braaivleis.

 

WAT IS ’N HARTSGEWEER?

Nou is ons terug by die vraag oor wat ’n hartsgeweer is. Dis ’n geweer wat, wanneer jy in snersende koue in die Winterberge agter op ’n bakkie klim, nie koud in jou hand voel nie. Jy rus jou hartsgeweer se kolf op jou stewel net agter jou tone sodat hierdie maat van jou nie onnodig op die grondpad skud nie.

Dalk word jy afgelaai met ’n gids en julle kry koers deur die veld. Later word die geweer swaar, maar ook net totdat die gids vassteek en vir jou ’n bok wys.

Wanneer dit jou beurt is, druk jy die kolf knus teen jou wang. Dis asof die geweer sê: “Kalm, kalm.” Jou greep op die kolf word stil. Jy haal oor om die patroon in die kamer te druk en ruik die Hoppe’s-olie wat die aksie glad hou. As jy deur die teleskoop kyk, is die bok klaar naby die kruis.

Die geweer praat weer en sê: “Hou my styf vas!” Die sneller verwelkom jou vinger en wag vir jou sagte druk, terwyl die kruis stil raak op die plek waar jy die skoot wil hê.

Wanneer die skoot weergalm, is dit asof die geweer fluister: “Dankie.” En jy fluister ewe saggies terug: “Dankie, my maat!”

Related Articles

SA’s free-roaming cheetahs: fewer than thought, more important than ever From the plains to the savannah – the .243 Winchester