
26 June 2026
Mauser se Staatmaker – die 9.3×62
MAUSER SE STAATMAKER – DIE 9.3×62
Deur JOHAN VAN WYK
Nie net betroubaar nie, maar ook bekostigbaar en weereens gewild.
Die 9.3×62 Mauser het deur die jare baie diep spore in die jagveld getrap. In Europa is dié staatmaker reeds vir dekades lank ’n gunsteling vir wild soos wildevarke en takbokke. Baie van hierdie wild word tydens sogenaamde driven hunts gejag waar die jagter skuiling inneem en die diere verby die skuiling gedryf word. Kort, handige gewere in 9.3×62 is ’n populêre keuse vir menige Europese jagter wat op hierdie wyse jag, en die 9.3×62 se slaankrag kom hier handig te pas.
’n Paar jaar gelede het ’n kennis van my in Alaska gaan jag met die hoop om een van die reusagtige bruinbere, wat in daardie deel van die wêreld voorkom, te kon jag. As gevolg van uitgebreide papierwerk het hy besluit om nie een van sy eie gewere saam te neem nie, maar eerder om ’n roer by sy jaggids te leen. Die geweer was ’n verslete ou Sako in 9.3×62, maar om ’n lang storie kort te maak, net een skoot was nodig om ’n groot bruinbeer se skedel en vel in die sout te kry.
Dit is egter in die jagvelde van Afrika waar die 9.3×62 die meeste roem verwerf het. Daar is bitter min van die ou jagboeke waarin nie melding gemaak word van die 9.3 nie, en die kaliber het diens gedoen in die hande van beroepsjagters, boere, en feitlik enigiemand wat ’n behoefte gehad het aan ’n groter geweer waarmee hy iets soos buffels en olifante ook kon aandurf.
DIE BEGIN VAN DIE 9.3×62
Die 9.3×62 is in 1905 deur die Berlynse geweersmid Otto Bock ontwikkel. Na wat ek kon vasstel is die 9.3×62 feitlik onmiddellik deur Mauser as ’n standaardkaliber aangeneem, en Mauser het hulle standaardlengte nommer 11 kommersiële M98-aksie wat vir die 9.3×62 aangepas was, vir dié doel gebruik. Met ’n magasynkapasiteit van vyf, plus nog ’n patroon in die kamer, kon Mauser se 9.3×62-gewere vinnige vuurkrag lewer as dit moet, en ’n 286gr-koeël teen ’n geadverteerde 2 360vps het genoeg penetrasie gehad om selfs groot diere vinnig en doeltreffend dood te skiet.
Die feit dat die 9.3×62 perfek gewerk het uit ’n standaardlengte M98-aksie, het tot gevolg gehad dat bykans elke geweervervaardiger in Duitsland 9.3×62’s gemaak en verkoop het. Beide kommersiële, sowel as bekostigbare eks-militêre M98-aksies is ingespan, en ammunisie (wat in Duitsland en Brittanje vervaardig is) was bekostigbaar en volop. Die 9.3×62 het dus vinnig ’n vastrapplek in die jagveld gekry en die kaliber het sinoniem met betroubaarheid en bekostigbaarheid geword.
Selfs die Britte, wat tradisioneel nie baie gewillig was om te erken dat goeie goed ook soms van oorkant die Engelse Kanaal af gekom het nie, het groot agting vir die 9.3×62 gehad. Hier en daar het sommige van die Engelse makers gewere in 9.3×62 vir kliënte gemaak, en andere het Mauser-gewere gekoop of laat bou, hulle eie naam opgegraveer, en weer net so aan kliënte verkoop. Soos reeds genoem, het Kynoch, die bekende Britse ammunisievervaardiger van ouds, 9.3×62-ammunisie vervaardig, en hierdie ammunisie is wydverspreid in Afrika verkoop.
AFRIKA-JAGTERS SE KEUSE
In ag genome die wildspesies wat in Afrika voorgekom het, het die 9.3×62 baie gebied. Omdat dit nie nodig was om skaars en duur Magnum Mauser-aksies vir die kaliber te gebruik nie, was 9.3×62-gewere bekostigbaar en volop, en John Taylor het in sy boeke opgemerk dat 9.3×62-ammunsie feitlik orals beskikbaar was. As ’n bonus was die 9.3 se terugskop redelik matig en dit kon dus in gewere wat relatief lig en hanteerbaar was, gehuisves word.
In die Afrika van ouds het baie mense tydens die koloniale era vanaf Brittanje en Duitsland na verskeie Afrika-lande soos Kenia, Rhodesië en Tanganjika geïmmigreer. Van hierdie mense het die geleentheid gebruik om goedkoop, gesubsidieerde eiendom soos landbougrond in die verskeie kolonies te bekom, en dit was dus onafwendbaar dat hierdie boere met wilde diere soos olifante en buffels slaags sou raak. ’n Bekostigbare 9.3×62 was in baie gevalle die ideale keuse vir ’n boer wat nie net sy kosbare landerye, gewasse en vee wou beskerm nie, maar ook nie ’n duur Engelse dubbelloopgeweer kon bekostig nie.
Na die Tweede Wêreldoorlog was Europa se vuurwapenindustrie aan flarde, en die gevolg was dat die bou van jaggewere en die laai van ammunisie vir jagdoeleindes ’n baie lae prioriteit gehad het. Kalibers soos die 9.3×62 het as gevolg hiervan stadig populariteit begin verloor. Winchester se bekende en bekostigbare Model 70 in .375 H&H was gedurende hierdie tye beskikbaar en is teen ’n bekostigbare prys bemark. Die gevolg was dat die Winchester-geweer en veral die .375 H&H in die tye na die oorlog groot gedeeltes van die mark in Afrika, wat voorheen aan die 9.3×62 behoort het, verower het.
In die middel-90’s het ’n vriend van my die kans gehad om die inhoud van ’n aantal kluise in Beira en Maputo wat aan die Mosambiekse polisie behoort het, te inspekteer. Hierdie kluise was gevul met vuurwapens wat van Mosambiekse burgers gekonfiskeer is na dié land se onafhanklikheidswording in 1975, en soos te verwagte, was die gewere in die kluise ’n interessante terugblik in tyd.
Benewens ’n klompie versamelbare Engelse gewere (onder meer een van die oorspronklike 24 .500 Jefferys wat gebou is) en dosyne Model 70 Winchesters in .375 H&H, was amper die helfte van die gewere in daardie twee kluise 9.3×62’s, en dit was duidelik dat dié kaliber baie populêr was by die Mosambiekse jagters van ouds.
Uit my kinderdae onthou ek dat 9.3×62-ammunisie en -komponente gedurende die laat 1970’s en vroeg 1980’s skaars en duur was. In die lig van die gewere wat in Mosambiek opgesluit was, is die rede vir die skaarsheid nou duidelik: Die mark het eenvoudig nie meer bestaan nie, en met honderde gewere wat eertyds in jagters se hande was, maar nou as’t ware in die tronk was, was die vraag na 9.3×62-ammunisie dus aansienlik minder.
In die destyde Rhodesië waar ek gebore is, was die 9.3×62 ’n populêre kaliber. My pa het ’n hele paar vriende gehad wat 9.3’s besit het en gereeld grootwild soos buffels met hulle gejag het. Een spesifieke vriend, Gerrie Minnaar, het noord van Bulawayo naby Nyamandhlovu op Sedgewick Ranch met beeste geboer en sy “grofgeskut” was ’n goed gebruikte oopvisier F.N. Deluxe 9.3×62 wat in die 1960’s nuut by Groeneveld & Hicks in Pretoria gekoop is.
Met gewone rak-ammunisie het Gerrie se F.N. deur die jare vir tientalle leeus, luiperds en buffels (almal afkomstig uit die nabygeleë Wankie Nasionale Park – deesdae die Hwange National Park) diens gedoen. Gerrie se geliefkoosde ammunisie was 286gr Norma-sagteneuse, en hy het my op ’n dag vertel hoe hy moeite gedoen het om die buffels net agter die blad te skiet en sodoende die groot bladbene te vermy. Daar is oor die jare baie soortgelyke 9.3×62-stories opgeteken, en dis duidelik dat die kaliber sy werk deur die geskiedenis gedoen het sonder trompetgeskal of fanfare.
TE GOED OM DOOD TE GAAN
Net soos onkruid het die 9.3×62, desnieteenstaande slegte tye, aan die lewe gebly. Ammunisievervaardigers soos RWS en Norma het aangehou om 9.3×62-ammunisie te laai en wapenvervaardigers soos Sauer, Steyr en Sako het steeds 9.3×62’s gemaak. Daar was steeds ook etlike gewere in omloop deur vervaardigers soos F.N., Sako, Husqvarna, Mannlicher, Mauser, en Brno, en so het die 9.3×62 se vlam bly brand, al het dit by tye gevaarlik laag geflikker.
Teen die 1990’s was nuwegenerasie-premiumkoeëls vir die 9.3 beskikbaar en dít, tesame met ammunisie en gewere wat weer vryelik beskikbaar was, het die 9.3×62 se gewildheid ’n groot hupstoot gegee.
Vandag is daar bykans geen Europese geweervervaardiger wat nié ’n geweer vir die 9.3×62 vervaardig nie. Die kaliber het selfs in die VSA ’n redelike mate van gewildheid onder jagters wat sy doeltreffenheid op wild soos moose (Amerikaanse eland), elk en die groot bere waardeer. Ook in Suid-Afrika is die 9.3×62 vandag net so gewild as ooit. Ammunisie en komponente is vryelik beskikbaar en as ’n bosveldkaliber het die 9.3×62 baie min gelyke.
VERSKEIDENHEID AMMUNISIE
Die 9.3×62 se brood-en-botter lading deur die jare was ’n 286gr-koeël teen ’n geadverteerde 2 360vps of so. Hierdie lading was effektief op groot, taai diere, en met volmantelkoeëls was dit voldoende, selfs vir olifante as die skootplasing in die kol was. Die herlaaier kan die 9.3×62 egter met groot sukses laai met ligter, meer aërodinamiese koeëls en sodoende dié kaliber se bene heelwat rek vir vlaktewild. Goeie voorbeelde van sulke nuwerwetse 9.3-koeëls is Nosler se 250gr AccuBond- en Partition-koeëls, Barnes se 250gr TSX en Hornady se 250gr GMX-koeël. Plaaslik vervaardig onder meer Peregrine en Kriek ook ligter en meer vaartbelynde 9.3-kaliber koeëls wat vir dieselfde doel aangewend kan word.
Daar is ’n klompie vervaardigers wat swaarder (300-, 320- en 325gr) 9.3-koeëls vervaardig. Hierdie koeëls kom myns insiens slegs tot hulle reg in kalibers soos die 9.3×64 Brenneke en .360 No. 2 NE. Die 9.3×62 het eenvoudig net nie die dopkapasiteit om dié swaarder koeëls vinnig genoeg en teen veilige drukvlakke te lanseer om optimale koeëlprestasie te verseker nie, so volgens my is 286gr-koeëls die swaarste koeëls wat in die 9.3×62 gebruik behoort te word.
Wat fabrieksammunisie aanbetref, vervaardig Norma, Nosler, Federal, RWS, PMP, Sellier & Bellot, Barnes, Swift, Sako, Hornady, en nog ’n klompie ander vervaardigers 9.3×62-ammunisie. Hierdie wye reeks ammunisie word gelaai met ’n groot verskeidenheid koeëls om aan bykans elke aanwending se vereiste te voldoen.
HERLAAI DIE 9.3×62
My eie 9.3×62 is ’n Tipe-A Oberndorf Mauser wat in ongeveer 1930 gemaak is. Aangesien die geweer ’n versamelaarsitem is, is daar geen sprake van ’n teleskoop op die geweer monteer nie en ek gebruik die ou Mauser net soos hy uit die fabriek gekom het, met sy wye V-express-korrel en -visier. Aangesien daar geen sin daarin is om ’n oopvisier-geweer te laai met vlakte-ammunisie nie, hou ek maar by 286gr-koeëls in die geweer en hy skiet ook in die kol met hulle op 100m.
Ek het egter ’n tyd terug ’n paar fabriekspatrone uit my Mauser oor my chronograaf geskiet om trompsnelheid te bepaal, en in die proses het ek ’n paar interessante dinge geleer. RWS 258gr H-Mantel-ammunisie het ’n gemiddelde trompsnelheid van 2 466vps opgelewer, en dis een lading wat goeie resultate op effe langer afstande sal oplewer. Een van RWS se ander aanbiedinge in 9.3×62 het egter ietwat meer verrassende resultate opgelewer, en dis die 293gr TUG (Torpedo Universal Geschoss)-lading.
Ek het net vier van hierdie patrone gehad en het die eerste een vir ’n vriend gegee om te skiet. Toe die skoot klap, het hy met groot oë die geweer laat sak en vir my gesê dat die geweer moes gebreek het, want dit het vreeslik hard geskop! By nadere ondersoek het dit geblyk dat die geweer niks makeer nie, en ek het ook een van die patrone geskiet. Die terugskop was inderdaad onsmaaklik, en dit was die hardste wat ek nog ooit deur enige 9.3×62 geskop is. Die chronograaf het gewys dat die 293gr-koeël teen ’n stewige 2 410vps uit die loop uit is, en ek kan getuig dat dit ’n handvol is uit ’n agtpond-Mauser! ’n Norma 286gr-fabriekslading het, vir die rekord, ’n trompsnelheid van 2 341vps opgelewer.
Na eksperimentering het ek op ’n kombinasie van Norma-doppe, CCI 200-slagdoppe en Norma 203B-dryfmiddel vir my 9.3×62 besluit. Hierdie dryfmiddel het die dop agter ’n 286gr Woodleigh Protected Point- of Sellier & Bellot-koeël mooi gevul, en trompsnelheid met my gekose lading was gemiddeld 2 350vps, met geen tekens van oormatige druk nie. Die wande van doppe deur ander vervaardigers is egter nie so dun soos dié van Norma-doppe nie, so die gebruiklike veiligheidsmaatreëls geld dus steeds as daar ladingontwikkeling gedoen word. Ander dryfmiddels wat ook goed in die 9.3×62 werk, veral met swaarder koeëls, is H4350, S355, S365, H4895, Varget en Norma URP.
In ’n noodgeval kan doppe vir die 9.3×62 gevorm word van .30-06 doppe, maar benewens die feit dat dit ’n tydrowende proses is, verskil die 9.3×62-dop se basisdiameter (.470”) van dié van die .30-06-dop (.473”).
9.3×62-doppe is egter volop en relatief bekostigbaar, so dit is makliker om net van die begin af ’n goeie voorraad doppe aan te koop en te gebruik. Ek gebruik ook ’n Lee Factory Crimp-matrys om die nekke van gelaaide patrone stewig te krimp ten einde te voorkom dat die koeëls in die doppe ingeforseer word in die magasyn tydens terugskop. Hierdie is een van Lee se beter produkte, in my beskeie opinie, en is elke sent werd.
VOLWAARDIG TERUG AAN TAFEL
Die 9.3×62 is vandag weereens ’n baie gewilde kaliber, veral by diegene wat gereeld in die Bosveld jag. Die swaar 286gr-koeël teen matige trompsnelheid penetreer goed en veroorsaak min vleisskade, beide groot pluspunte.
Net soos wat die geval was in die ou dae, is die 9.3×62 weereens sinoniem met betroubaarheid. Finn Aagaard, die Keniaanse professionele jagter wat later in sy lewe ’n suksesvolle geweerskrywer in die VSA geword het, het oor die 9.3×62 as volg opgemerk: “The cartridge always worked. I never saw nor heard of a failure that could be blamed on it. Reliability was its middle name.”
Ek kan dit nie beter stel nie!






















