
4 September 2026
Oppas! Hier is Suid-Afrika se gevaarlikste slang
DEUR JOHAN MARAIS – By die Afrika-slangbytinstituut word ons dikwels gevra wat die gevaarlikste slang in Suid-Afrika is. Dis natuurlik nie ’n maklike vraag om te beantwoord nie, aangesien baie faktore in gedagte gehou moet word.

Die swartmamba – Suid-Afrika se gevaarlikste slang.
Druppel vir druppel is die boomslang verreweg ons giftigste slang. Waar ’n swartmamba byvoorbeeld meer as 300 milligram gif het en ongeveer 15 milligram nodig het om ’n volwasse persoon te dood, het die boomslang minder as 8 milligram gif en benodig slegs 0,015 milligram vir ’n dodelike byt.
Boomslangbyte is egter uiters skaars omdat dié slange in bome en struike woon en sommer gou wegseil sodra enigeen naby kom. Ons sien minder as ’n dosyn boomslangbyte per jaar in Suid-Afrika en die meeste slagoffers is mense wat hierdie slang probeer vang.
Die boomslang se gif is hemotoksies en stadigwerkend. Dit affekteer die bloedstollingsfaktor, wat lei tot onbeheerbare bloeding as die persoon nie die regte behandeling ontvang nie. In sulke byte is die eerste tekens van vergiftiging eers ná 4–35 uur sigbaar – ’n bietjie vloeistof wat uit die bytplek lek, dan bloeding vanuit die neus en tandvleis en later inwendige bloeding.

Daar bestaan geen teengif vir die bergadder se byt nie.
Daar is dus meer as genoeg tyd om by ’n hospitaal uit te kom. Boomslangteengif is uiters effektief indien dit vroegtydig toegedien word.
Vir twee of drie van ons gevaarlike slange is daar geen teengif nie en pasiënte word simptomaties behandel. Die takslang, voorheen ook bekend as die voëlslang (hoewel dit selde voëls vreet), woon ook in bome en struike en byt bitter selde.
Hierdie slang se gif is soortgelyk aan dié van die boomslang en veroorsaak onbeheerbare bloeding, maar boomslangteengif help glad nie daarvoor nie. Enkele sterftes is verder noord aangeteken, maar nog niks in Suid-Afrika nie. Dit is beslis nie ’n slang waardeur jy gebyt wil word nie!
Daar bestaan ook geen teengif vir die bergadder se byt nie. Dié slang se gif is uniek: Dit is sitotoksies en veroorsaak pyn en swelling en beïnvloed sig, smaak en reuk. Dit is egter ook neurotoksies en belemmer asemhaling.
Die meeste slagoffers moet 4–7 uur ná ’n byt geïntubeer en geventileer word in ’n hospitaal. Alhoewel geen sterftes bevestig is nie, kan dit noodlottige gevolge hê indien die slagoffer nie gehospitaliseer word nie.
Die sypikslang (stiletto in Engels) is vir baie byte verantwoordelik. Dit is ’n nagaktiewe slang wat op warm someraande op die grondoppervlak rondbeweeg, veral ná reën. Ongelukkig verwar mense dit dikwels met die onskadelike molslang.
Sodra die sypikslang opgetel word, word sy giftande aan die kante van sy bek uitgesteek. Die gevolg is ’n pynlike byt wat swel, binne ’n dag of twee blase veroorsaak en in talle gevalle erge weefselskade tot gevolg het wat selfs daartoe kan lei dat ’n vinger of duim afgesit moet word.
Pofadders kom wydverspreid voor en in die noorde van die land paar hulle in die winter. Tog word jagters selde deur hierdie slang gebyt. Die gif is sitotoksies en stadigwerkend en behandeling met teengif is uiters doeltreffend solank dit gou ná ’n byt toegedien word.
Sterftes onder volwassenes is uiters skaars, maar as dit etlike ure neem voordat die teengif gegee word, kan erge weefselskade voorkom.
Die Mosambiekse spoegkobra is een van ons gevaarlikste slange omdat dit dikwels by geboue en tente inseil en mense byt terwyl hulle slaap. Hou maar julle tente goed toe, asook deure op plase en in jagkampe.
Hierdie slang seil per ongeluk snags by wonings en tente in en verwar mense met ’n moontlike maaltyd. Talle mense, veral kinders, word snags in die gesig gebyt. Die gif is sitotoksies en veroorsaak dikwels groot weefselskade.
In ernstige gevalle moet teengif so gou as moontlik toegedien word om weefselskade tot die minimum te beperk. Sterftes word selde aangeteken, maar die weefselskade kan enorm wees.
Myns insiens is die swartmamba verreweg ons gevaarlikste slang as gevolg van die vinnigwerkende neurotoksiese gif. Dit is beslis nie ’n aggressiewe slang nie en sal sommer gou wegseil.
Indien iemand egter deur hierdie slang gebyt word, kan die gevolge skrikwekkend wees. Ná ’n ernstige byt kan die slagoffer binne ’n uur of selfs ’n halfuur sukkel met asemhaling.
So ’n persoon moet dringend gehospitaliseer word en in die meeste gevalle geïntubeer en geventileer word omdat die senugif die longe gou kan affekteer. Die teengif is doeltreffend, maar waar pofadderbyte aanvanklik met ses ampules teengif behandel word, benodig mambabyte dubbeld soveel.
Vir goeie eerstehulpadvies oor slangbyte, laai gerus die gratis toep ASI Snakes op die Google Play Store af.






















