
10 September 2026
Die nederige pellet gun
DEUR JACO ZEEMAN – My eerste en belangrikste leermeester.

Die Diana 27 voor en ná restourasie.
Toe ek nog ’n jong knaap was, het ons na Pongola in KwaZulu-Natal verhuis waar ek van graad 2 tot standerd 2 op skool was. Ek kan nie presies onthou hoe die Gecado 25 in ons huis beland het nie. Wat ek wel weet, is dat my ma se oudste broer, oom Stoffel Bosman, met suikerriet in die omgewing geboer het. Dit was dus waarskynlik ’n hand-me-down van een van my twee neefs, Danie en Thomas, wat plaasseuns was. Hulle was heelwat ouer as ek en het moontlik na iets groter opgegradeer.
Ons het die Gecado 25 in 1968 gekry. Hy was al baie gebruik, maar steeds diensbaar. Ek kon nie help om te wonder hoeveel koeëltjies my twee neefs deur sy loop gejaag het nie! Ek kon reeds ’n pellet gun hanteer, want ek het op die plaas daarmee geskiet. Ons bure op die dorp het ook een gehad waarmee ek en die buurseun soms in die oop veld oorkant hulle huis gaan “jag” het.
DIE GOEIE OU DAE
Daardie dae was dit glad nie snaaks om ’n bende seuns so jonk as ses of sewe jaar oud in die straat te sien loop, elk met ’n windbuks in die hand, om in die naburige veld te gaan voëltjies “jag” of teiken te skiet nie. Die teikens was gewoonlik dinge soos blikke, klippe en bome. Daar was van die kleinste windbuksies tot ’n Gecado 50 wat aan die ramkat onder ons behoort het. Hy het ons soms toegelaat om ’n skoot met sy “olifantgeweer” te skiet.
Van die ekskursies was daarop gemik om die muisvoëls en ander vrugtevreters in die vrugtebome in iemand se tuin of vrugteboord te gaan jag of net te verjaag. Die doodskiet was egter beperk as gevolg van die toerusting, gebrek aan vernuf en onkunde.

Die drie windbukse wat ek gerestoureer het asook ’n heelwat nuwer Gamo. Van bo na onder: Gamo, Diana 27, Gecado 25 en Gecado 23.
Destyds kon jy in jou eie erf skiet, solank jy nie die bure, hulle eiendom, lewende hawe (hoofsaaklik hoenders) of huisdiere in gevaar stel nie. Daar was gewone 1,4 m-draadheinings tussen die huise wat ons ongekende vryheid van beweging gegee het, behalwe as die buurtannie of -oom nukkerig was. Soms was daar selfs tuinhekkies in die heinings wat die kuiers tussen vriende en toegang tot “jagvelde” vergemaklik het.
Ek kan nie meer onthou wat ’n rooi boksie 100 Marksmankoeëltjies daardie jare gekos het nie, maar dit was iets soos 10 sent! Die ouens wie se pa’s baie geld gehad het, het boksies van 500 koeëltjies vir 40 sent gekoop. Ek moes nogal hard werk om genoeg te verdien sodat ek nog koeëltjies kon gaan koop: gras sny, kar was, die agterplaas met die grasbesem vee, en so meer. Dié take is met groot ywer uitgevoer, want die dryfkrag was sterk – geld vir pellets!
Daar was gewone koeëltjies soos Marksman se rooi en groen boksies, en dan ook hoëverrigting-koeëltjies wat meestal in blikkies verpak was. Dit is soos vierdegenerasie-“premium koeëls” as jy dit met vandag se jagammunisie vergelyk! Die groen boksie Marksman-skerppuntkoeëls en die blikkie koeëls het jou ook in ’n effense hoër liga laat speel, of sal ek sê “jag”. Dié superkoeëltjies kon volgens oorlewering ook glo vinniger, verder en harder skiet as die gewone arm man se Marksmankoeëltjies in die rooi boksies.
Om die waarheid te sê, hierdie stelling is nooit bewys nie, maar jy het nietemin bragging rights gehad met ’n blikkie in jou sak pleks van ’n boksie!
Die bure skuins agter ons se van was Steyn. Hul seun Peet was ’n jaar of wat ouer as ek en ons het menige jagavonture in die veld oorkant hulle huis onderneem. Daar was verskeie voetpaadjies wat deur die bos na onder andere die slagpale en industriële gebied gelei het.
Hierdie paadjies was ons jagroetes waarvandaan ons die ekskursies onderneem het. Dit was ’n redelike beboste gebied en verskeie groot maroelabome het verspreid in die veld gestaan. Een spesifieke boom was ons gunsteling-“basis”. Die jagtogte het nie lank aangehou nie, want ons welslae was maar gering. Dan is daar teikengeskiet na blikke, blomme, klippies en alles wat na ’n teiken gelyk het.

Die teiken wat ek gebruik het en op 10 treë geplaas het om die vier windbukse se relatiewe akkuraatheid te toets.
Die relatiewe akkuraatheid van die ou windbukse was ’n bogger! Jy kon nie bloot klieks heen en weer of op en af stel om hulle op teiken te kry nie; jy het ’n ligte hamer en ’n platpuntpons vir dié takie nodig gehad. Die korrel en visier is met ’n styfpassende swaelstertgleuf aan die geweer geheg. As die geweer links skiet, moes jy die voorste korrel met die pons en hamer liggies na links slaan. Agter was egter ’n skuifstuk wat die visier opgelig het vir langer skote. Ons het geleer om af te mik. My Gecado 25 het “net” regs op 10 treë geskiet en ek het “net” links van my voorgenome prooi of teiken gemik – ’n metode waarmee ek goeie sukses behaal het.

’n Boksie Marksman .177″-skerppunt-windbukspatroontjies.
EERSTE PROOI
My eerste suksesvolle prooi was ’n geelvinkwyfie wat reg bokant my in ’n groot maroelaboom agter in ons erf gesit het. Ek het reguit boontoe gemik en die sneller gedruk. Sy het met ’n dowwe plof reg voor my voete geval! Ek het verdwaas na die voëltjie gestaar. Daarna het ek haar gepluk, geslag, gebraai en halfrou geëet, soos die vereiste was.
Die volgende twee jaar het verskeie voëls onder my Gecado 25 deurgeloop tot die jagtogte op ’n end gekom het toe ons Pretoria toe getrek het. Ek het my jonger boetie leer skiet. Hy het my eendag reg van voor in die middel van my borsbeen geskiet toe ek om ’n boom geloop het om te kyk waar die voël was en hy “sommer net” die skoot deur die blare afgevuur het!
Nadat ons verhuis het, het die windbuks iewers in ’n hangkas staanplek gekry en nie gou weer aksie gesien nie. Later jare het ons Warmbad (deesdae Bela-Bela) toe getrek, waar my pa ’n plot gekoop en ’n kwekery begin het. Ek was in die koshuis en het slegs vakansies huis toe gegaan. Natuurlik kon ek dan nie wag om die Gecado 25 uit sy donker, eensame bêreplek te haal nie.
Ons kinders moes met los werkies by die kwekery help, maar het genoeg tyd gehad vir speel. Die meeste van my speeltyd is op ons en die bure se plotte deurgebring met ’n handjie vol 1,77 mm-loodkoeëltjies onder die tong en die windbuks in die hand. Ek het gejag – vrugtevreters in die dag en rotte in die hoenderhokke en store in die nag. Die blink verchroomde koplampie wat altyd bokant my linkeroog geposisioneer was, se batterypakkie is met ’n tou om my lyf vasgebind. Ek was nogal suksesvol met die nagjagtery – seker omdat die bure se dogter my soms vergesel het!
My twee neefs, Chris en Willie Zeeman, het gereeld vakansies by ons op Warmbad kom kuier. Windbuksskiet was uit die aard van die saak een van ons aktiwiteite. Ons het later so onverskillig geraak dat ons vuurhoutjies met sywaarts uitgestrekte arms in ons hande vasgehou het en die ander dit probeer raakskiet het. Ons het ook koeldrankbottels se proppies tussen ons hakke vasgeknyp en hulle geskiet. Dat ons mekaar se vingers of hakke nooit af- of raakgeskiet het nie, was bloot danksy ons skietvernuf – of ons beskermengele. (Ek dink laasgenoemde het dalk die grootste rol gespeel!)
DIE DIANA 27 HERLEEF
’n Onlangse gesondheidsterugslag het my vrou in Maart vanjaar getref en ons is basies “onder huisarres”, soos sy dit noem. Sy kry weeklikse behandeling en voel gewoonlik olik vir so twee tot drie dae daarna. Ek is altyd besig om te kap, vyl, boor of sweis by my werksbank, maar in hierdie tye probeer ek so saggies moontlik in en om die huis beweeg.
Iewers tydens my soeke na “stil” werk het ek op ’n ou, verwaarloosde Diana 27-windbuks afgekom wat ek 10 jaar gelede by ’n wyle vriend van my ma gekry het en wat tussen my twee kluise gestoor was. Skielik het ek op die idee gekom om hierdie wapen te laat herleef.
Die Diana se kolf was op twee plekke gekraak deur die pistoolgreep wat ru met ’n bout en moer vasgetrek was en die agterste visier was met ’n stuk Pratley Putty in posisie gehou. Sewentig jaar se gebruik, onbruik en onoordeelkundige stoorpraktyke het sy littekens gelaat. Die hout was gekrap en vol duikies. Die buitekant van die loop, snellerbeuel en silinderkamer was geroes, die loop was binne-in vol stof en die groewe was haas onsigbaar.
Ek het die geweer op ’n groot lap op my werksbank gesit en dit uitmekaar begin haal. Die houtkolf was eerste aan die beurt en ek het die onooglike bout deur die pistoolgreep uitgehaal. Terwyl ek nog so aan die kolf buig om vas te stel hoe sleg dit gekraak was, het ek skielik met twee stukke hout gestaan, een in elke hand. Ek het die ander kraak bestudeer en dit herstelbaar gevind.
Ek het houtlym met behulp van ’n dun toutjie in die kraakopening gesmeer deur die gom verskeie kere in die kraak in te trek terwyl ek ’n saagaksie uitvoer. Daarna het ek dit stewig vasgeklamp.
Die volgende oggend ná my eerste koppie koffie is ek motorhuis toe om die twee stukke kolf aanmekaar te lym. Ek het die klamp afgehaal, die oop kante gelym, die twee stukke opgelyn en hulle vasgeklamp. Deur die loop van die oggend het ek die geroeste parte met fyn staalwol geskuur wat in ’n 1:1-verdunning van Deoxidene gedoop is.
Die resultaat was uiters bevredigend. Ek het die parte deeglik afgespoel en laat droog word terwyl ek aandag gegee het aan die veer, die suierbuis waarin die veer pas en die suierkop wat van leer gemaak is. Alles wat skoongemaak was, het toe nog goed gelyk, onder andere die “velletjie” (soos dit in die volksmond bekendstaan) wat nog heel diensbaar was.
Volgende het ek al die ysterdele met ’n asetoonlappie gevryf om oortollige vuilheid en olie te verwyder sodat die Ballistol Quick Bluing sy werk op die metaal behoorlik kon doen.
Ná die aanblouing van die metaaldele het ek die kolf goed afgeskuur. Toe ek daarmee tevrede was, het die kolf oor ’n periode van drie dae twee lae vernis gekry. Intussen het ek die aksie en loop aanmekaargesit en net gewag dat die kolf se vernis behoorlik droog word.

Een van die geweertjies net voor dit ’n nuwe baadjie gekry het.
Die vierde dag het ek die geweer aanmekaargesit en met een Marksman-koeëltjie (in my mond, natuurlik) na my agterplaas gestap om ’n toetsskoot te skiet. In my skik met die suksesvolle resultaat, het ek die Diana 27 in my “boomhuis” gebêre. (My dogter noem my kluis/herlaaikamer my “boomhuis”, want volgens haar moet elke seuntjie ’n boomhuis hê!)
My Gecado 25 en ’n Gecado 23 wat ’n vriend toe dieselfde dag vir my gee, het oor die volgende week presies dieselfde medisyne as die Diana gekry. Drie windbukse is só gered!
KOSBARE HERINNERINGE
Die herinneringe wat by my opgekom het en die nostalgie wat ek ervaar het terwyl ek die geweertjies gerestoureer het en hierdie storie geskryf het, is van onskatbare waarde. Noudat ek die drie windbukse tot hul volle glorie herstel het, voel dit asof ’n volle kringloop voltooi is – van waar ek begin skiet het tot vandag toe.
Daardie dae se skiet het my onbewustelik gestimuleer om later in my lewe ’n jagter en kompeterende skut te word. Ek het van die kleinste tot by die grootste kaliber gewere geskiet. Verder het ek van blouduikers tot buffels gejag, en soos met die eerste geelvinkwyfie is alles opgeëet!

Die Gecado 23 op die skiettafel tydens die windbukse se akkuraatheidstoets.
Maar die jagtogte het nie net oor die skiet en eet van die prooi gegaan nie. Dit het ook gegaan oor die liefde vir die natuur en die mense en diere wat my pad gekruis het as gevolg van my passie vir jag en skiet. En dít het alles met ’n nederige Gecado 25 pellet gun begin.
Ons maan ons lesers om nie van die skietpraktyke wat in Jaco se artikel genoem word, te probeer nie. Dit is ingesluit ten einde kleur aan die storie te gee, maar veiligheid is altyd ’n voorvereiste. – Red.
























