Oos-Afrika: Toeka se tyd

9 June 2026

Nocturnal Oryx Consternation

9 June 2026

9 June 2026

Jag in Mosambiek se Niassa-provinsie

Deur DIRK OOSTHUIZEN

Buffeljag op die regte manier!

Dit was 17 September 2016 en ek was weer op pad na Mosambiek om te jag. Hierdie sou my derde keer wees en die opgewondenheid was elke keer groter!

Ek het eers na OR Tambo Internasionale Lughawe toe gevlieg, van waar ek ’n LAM-aansluitingsvlug na Mosambiek se hoofstad Maputo gehaal het. Daardie aand sou ek in Maputo oornag, maar het eers 23:00 by die hotel aangekom nadat die militêre polisie ons voertuig voorgekeer en deursoek het. Met hanekraai die volgende oggend was ek weer op die lughawe – kort slaap vir báie geld!

Die vlug vanaf Maputo na Lichinga via Nampula het vier ure geduur. Met my aankoms was Jacques van Zyl van JvZ Safaris daar om my te verwelkom. Ná vier ure op die pad was ons in Marrupa in die Niassa-provinsie, gevolg deur ’n verdere rit van twee en ’n half ure na die jagkamp. Twee dae se reis! In die aandskemering het die kamp heel goed gelyk. Hierdie soort kampe word aan die einde van die jagseisoen afgebreek en dan later weer vir die volgende seisoen opgerig aangesien hulle in die reënseisoen onbereikbaar is.

 

Dag 1

Ek het my Sauer .375 H&H aanmekaargesit en twee skote oor die Cruiser se neus gevuur om seker te maak hy skiet nog waar hy moet. Ek was heel tevrede en vol selfvertroue, want ek was darem al goed vertroud met die .375 H&H sedert ek in 2012 die eerste keer hier was.

Jacques het die dag gebruik om my te akklimatiseer. Ons het koers gekies die bos in op soek na luiperdaas. Sommer gou het ons groot troppe swartwitpense en koedoes teengekom, asook leeu- en buffelspore. Anders as die vorige jare, was die olifantspore maar skaars. Volgens Jacques was daar in die laaste vier jaar tot 15 000 olifante in dié area gestroop. Dit het alles begin toe Chinese werkers ’n selfoonnetwerk daar opgesit het.

Ek en Martiens, ons kampkommandant, het laatmiddag met die Leregorivier op gaan stap. Dié tyd van die jaar was die rivier droog, maar in die reënseisoen lê dit kant en wal. Ons jaggeselskap was op daardie stadium van ondergrondse water afhanklik. Oral was tekens van visfuike en droograkke, want die rivier se vis is ’n groot proteïenbron vir die omgewing se mense.

Die pragtigste bome groei op die rivieroewer en ons het ’n groepie bosvarke onder die bome gewaar wat teen die rivierwal uitbeur. Ek het ’n jong beer met ’n mooi hartskoot grond toe gebring. Martiens het dadelik besluit dat die twee boude in die kamp gebruik sou word. Die res sou as luiperdaas dien. Die jagter wat ná my sou arriveer, het ’n leeu en luiperd op sy lysie gehad en baie aas was daarvoor nodig.

Daardie aand het ons aan swartwitpensfilette weggelê. Die tsetsevlieë, oftewel “vlieënde hiënas” soos Jacques hulle noem, het daardie dag ook hul pond vleis geëis, want ek het onophoudelik gejeuk. Ek sal nooit weer oor gewone vlieë kla nie!

Die slaap het maar moeilik gekom daardie nag, want die volgende dag sou ons op Nyathi se spoor gaan loop!

 

Dag 2

Ons was douvoordag uit die vere en het binne ’n paar kilo’s van die kamp af op verskeie buffelbulle se spore afgekom. Ons het besluit om ’n alleenloperbul te volg, want sy spoor het gewys dat hy groot was. Volgens die spoorsnyers was die spoor minder as vyf ure oud.

Ses ure later was ons steeds op die dagha boy se spoor. Op ’n stadium moes hy ons reuk gekry het, want hy het begin hardloop. Dié ou man was uitgeslape! Elke dan en wan het hy saam met die wind gedraai.

Ek het die gevoel gekry dat hierdie jag ons deursettingsvermoë tot die uiterste sou beproef. Die spoor het op een plek byna loodreg teen die wal van ’n rivierlopie opgeloop. Die vleigebiede was ’n groot uitdaging. In die reënseisoen trap die olifante diep gate in die grond en wanneer die grond in die droë tyd uitdroog, word die gate deur blare bedek. ’n Man moet maar mooi trap hier of ’n geswikte enkel is jou voorland!

Ek was dankbaar vir my ou jagbroek se dik materiaal en lang pype, want ek het teen verskeie rivierwalle afgegly. Teen 14:00 het ek my een enkel effe geswik en ons moes terugdraai na die jagvoertuig. Op pad het ons ’n pragtige waterbokbul teengekom. Jacques het gesê ek kan hom skiet, maar ek was nie gemaklik met die skoot deur die takke nie en het hom laat gaan.

 

Dag 3

Ons was weer voor 5:00 op. Ek het egter soos ’n baba hier geslaap en was uitgerus en reg vir die lang stap. Die gidse was reeds weg om te kyk of hulle die bul se spoor in rivier kon kry. Ons het na ’n afgespreekte plek gery om hulle te ontmoet. Die lastige tsetsevlieë het soos ’n wolk om die Cruiser gehang, en as ’n deur of venster oopgegaan het, was hulle in!

Ons het by Martiens en Ricardo aangesluit, beide spoorsnyers van formaat. Hulle het die dagha boy se spoor weer gevind en ons het begin aanstap. Dit was 07:00 en reeds warm, maar die effens bewolkte weer het darem verligting gebring. Die wind het egter nie saamgewerk nie en sewe ure later moes ons tou opgooi. Die ou man was dié dag weer gans te slim. Die gidse was ietwat moedeloos omdat al die harde werk geen beloning opgelewer het nie. Jacques het besluit om die volgende oggend nóg vroeër te begin soek.

 

Dag 4

Ek was reeds voor 04:00 op. Die gidse was reeds uit op soek na die ou bul se spoor. Jacques het my ingelig dat ons ’n ander rigting sou inslaan – hulle was nie langer lus vir dié uitgeslape kalant nie! Toe ons net voor 06:00 by die gidse aankom, het hulle ’n ander alleenbul se vars spoor gekry.

Ons het teen die rivierwal uitgeklim en dadelik op vars, warm mis afgekom. Die eerste ent moes ons deur ruie rivierbos sukkel en die adrenalien het sterk gepomp; jy kon skaars sien wat voor aangaan en die sakkie wat die windrigting aandui, het kwaai gewaai!

Daarna is ons gelukkig deur ’n oop, gebrande area en kon goed vorder en die bul begin inhaal. Die wind was boonop in ons guns. Die grond was bedek met afgevalle blare en ek het my telkens verwonder aan die spoorsnyers se vermoë om ’n enkele spoor te volg, soms tussen ’n trop ander diere se spore deur.

Wat volgende gebeur het, was baie snaaks, maar dit kon maklik lelik skeefgeloop het. Ons is teen ’n beboste koppie uit wat nie gebrand het nie. Toe die spoorsnyers oor die kruin loop, het die buffelbul vlak voor hulle in ’n donga gelê! Ons wat die agterhoede gedek het, het net takke hoor kraak en spoorsnyers die hasepad sien kies. Gelukkig het die bul net so groot soos ons geskrik en in ’n heel ander rigting laat spaander. Hy was egter lelik omgekrap en het lank aanhou hardloop.

Die bos was vol verrassings, sommige darem minder gevaarlik. ’n Oulike voorval wat my steeds bybly, is toe ek vir ’n skielike beweging tussen die blare op die grond geskrik het en iets oor my broek voel gly het. Slang! was my eerste gedagte en ek het verskrik weggespring. Toe ek egter niks sien nie, het ek aangestap. Arthur, wat agter my geloop het, het vir my die video gewys wat hy geneem het van ’n groot akkedis wat byna 10 minute lank heerlik op my rug gery het sonder dat ek dit besef het.

Teen die middel van die dag het ons onder ’n groot ou boom langs ’n poel in die rivier halt geroep om te rus en iets te eet. Ek het half aan die slaap geraak op die koel sand en blouape gewaar wat reg voor ons kom drink het. ’n Pragtige reusevisvanger en ’n bontvisvanger het vissies in die poel kom jag. Dit was salig in die Afrika-bos.

Toe ons opstaan en ons stewels aantrek, het Martiens vir ons ’n manjifieke swartwitpensbul oorkant die rivier gewys wat vir ons staan en kyk. Ek het dadelik die .375 gegryp, maar met dié beweging was die bul skoonveld.

Die wind was nou in die buffel se guns en hy het aanhou beweeg. ’n Groot trop buffels het oor sy spoor geloop en ons vordering gekniehalter. Boonop was daar ’n trop bobbejane wat ons verskreeu het en ek was pootuit geloop. Ek en een gids het gewag terwyl Jacques-hulle die Cruiser gaan haal het waar ons dit dié oggend gelos het. Laatmiddag was ons terug in kamp waar Jacques met die gidse beraadslaag het. Die plan was om die volgende oggend weer die eerste bul se spoor te gaan soek.

Daardie aand het ons aan heerlik gebraaide Portugese hoender gesmul te midde van die geroep van gevlekte ooruile en Mosambiekse loeries en visvangers – die perfekte einde ná ’n vermoeiende dag.

 

Dag 5

Ons was weer vroeg op die bul se spoor. Hy het in die area gebly waar ons hom die vorige twee kere gevolg het en het ook snags op min of meer dieselfde plek gedrink.

Die warm mis het ons hoop gou laat opflikker, maar die buffel se instinkte het weer oorgeneem en hy het ons in ’n sirkel gelei tot hy ons reuk kon optel. Al wat ons daarna kon kry, was sy spoor soos hy weggevlug het. Teen hierdie tyd was die gidse baie negatief en oortuig dat ons nooit die bul in die beskikbare tyd sou opspoor nie. Ek het spottenderwys geantwoord dat ons hom dan maar in die nag by die rivier moes voorlê!

Martiens het vir Jacques oorreed dat ons ons visier op iets anders moes stel. Hy het ingestem dat ons verder op in die Rio Lerego na dagha boy -spore soek. Daar was ook ’n voorstel om een van die groot buffeltroppe se spoor te vat, maar ek was niks lus daarvoor nie – my droom was om ’n dagha boy te jag!

Ek, Jacques en Arthur is terug na die Cruiser toe met al die pakkasie terwyl die twee gidse verder gesoek het. Ná sowat ’n uur se wag het ons kriewelrig geraak en in die rigting begin stap waarin die twee gidse koers gekies het. Kort daarna het ons op ’n poel in die rivier met ’n jong krokodil afgekom. Ons het ook die gidse hoor aankom en hulle tegemoetgeloop. Hulle het opgewonde verduidelik dat hulle twee buffelbulle se spore 2,5 km rivierop gekry het.

Ons het beraadslaag of ons tot die volgende dag moes wag en of ons nou die spore moes volg. Dit het reeds warm geraak en dit sou ’n uur duur om deur bos tot by die spore te kom. Ná ’n lang relaas het Jacques besluit om die gidse se voorstel te volg en die twee bulle te gaan soek. Met Ricardo aan die voorpunt, het ons met mening begin stap en was binne ’n halfuur by die spore terwyl die sweet ons aftap.

Die twee buffels het draaie deur die rivier en terug geloop en die gidse het gou die spoor verloor. My moed het in my jagstewels gesink, maar gelukkig het ons kort daarna op die spoor afgekom waar ’n derde bul by die groep aangesluit het. Die spoor was nou baie vars en ons kon dit taamlik maklik volg.

Net ná 11:00 het ons die eerste lêplek en vars mis gevind. Die sakkie met poeier is dadelik uitgehaal om die windrigting te lees. Babapoeier se reuk sal nooit weer vir my dieselfde herinnering hê nie!

Teen 11:45 het ons die volgende lêplek ontdek waar die buffels herkou het. “Ons is nou naby,” het Jacques laat hoor en die opgewondenheid het hoog geloop. Teen 12:00 het ons ’n derde lêplek gekry en nou selfs nog meer katvoet geloop as voorheen.

Dit was 12:15 toe Martiens hulle uiteindelik sien lê het. Almal het dadelik plat gaan sit en ek en Jacques is versigtig ’n paar meter vorentoe. Die skietstokke is staangemaak en ek kon die buffels nou duidelik sien ongeveer 40 meter verder onder ’n boom in die lang gras. Jacques het gefluister dat hy nie die horinggrootte gaan probeer skat nie, maar dat ek moes skiet as ek tevrede was. Ons het ooreengekom dat trofeegehalte nie die hoofdoel was nie, maar eerder die jag self en ’n verteenwoordigende buffel.

Net toe die .375 gereed op die stokke was, het die buffels egter snuf in die neus gekry en vinnig opgestaan. ’n Buffel wat vir jou kyk is iets wat ’n mens nie gou vergeet nie! Die voorste bul was in my visier en ek het na die hart geskiet terwyl hy half na my kyk. Hy het erg gesteier en daarna saam met die ander twee bulle gevlug. Die bul was duidelik swaar gewond, want hy het moeilik gehardloop. Weens al die gras en takke kon ek ongelukkig nie ’n tweede skoot inkry nie. Ek moes egter gaan sit om die adrenalien te laat bedaar. Martiens was oortuig dis ’n doodskoot te oordeel na die manier waarop die bul beweeg het.

Tien minute later het ons vorentoe gestap en ’n hele paar meter verder ’n helder bloedspoor gekry. Skielik was ek nie meer so seker van my skootplasing nie…

Die gidse het die spoor gevat en ek en Jacques het op hulle hakke gevolg. Omtrent 15 minute later het ons hom in die lang gras sien staan. Sy kop was omlaag en slegs die bokant van sy rug was sigbaar, maar ek het nog ’n skoot deur sy lyf geskiet en hy het weer op die vlug geslaan! Jacques het twee skote met die .416 Rigby gevuur, maar net bome getref.

Ons het weer bloed ontdek en dit verder gevolg. Daar was baie hoë gras en ons het maar stadig beweeg. Skielik het die gidse iets gehoor en Jacques het in ’n boom geklim om seker te maak. Ek was moedeloos toe sy gesigsuitdrukking sien. Hy het verduidelik dat die bul saam met ’n ander een ’n goeie 100 meter verder onder ’n boom staan en nie erg gewond lyk nie. Ek kon sien Jacques was omgekrap. Toe hy egter die verkyker se fokus verskuif, het sy gesig opgehelder. “Jou bul staan 30 meter voor ons in die gras en wag. Hy waggel,” het hy ondertoe vir my gefluister.

Terwyl ons wag dat Jacques besluit hoe ons die situasie moet hanteer, het hy gefluister dat die gewonde bul gaan lê het. Onmiddellik hierna het ons hom hoor bulk – ’n onbeskryflike geluid. Ek het al baie oor ’n buffel se doodsbulk gelees, maar om dit te beleef was terselfdertyd verblydend en iets wat jou met weemoed vervul. Die doodsbulk is nie net een bulk nie, maar word verskeie kere geuiter terwyl dit al sagter en swakker word.

Dit was beslis die hoogte- én laagtepunt van my jag. Ons het om die bul beweeg om hom van agter te nader en ek het nog twee versekeringskote deur die nek geskiet. My eerste buffel in Afrika se wildernis! ’n Ware dagha boy sonder enige teelkampe, mak koeie of lusern – nes ek dit wou hê!

Nou vir die minder lekker deel van die storie: Ons was op ’n plek waar die Cruiser as gevolg van twee rivierlope nie kon uitkom nie en dit was te laat om die buffel op te sny en daarmee uit te stap. Ons het dus net sy kop afgesny en soveel vleis as wat ons kon dra en is terug Cruiser toe. Die leeus en hiënas het vir seker daardie aand feesgevier.

Ricardo het met die buffelkop op sy kop oor die 4 km deur bos gestap met slegs een stop om water te drink. Daardie kop is swaar! Dié manne is ongelooflik sterk en fiks. Hul stamina en bosvaardighede is uitstekend, om nie eens te praat van hul vermoë om rigting te hou nie. Jacques het my op sy GPS gewys hoe Ricardo die pad reguit Cruiser toe vat terwyl ons 200 meter van die Cruiser af in die rivier uitgekom het!

 

Daardie aand het ons ’n paar Ierse lafenissies geniet en aan die bosvarkboud gesmul. Die lewe was ’n lied!

Related Articles

Oos-Afrika: Toeka se tyd Nocturnal Oryx Consternation