
9 June 2026
So ’n raps meer…
Deur JOHAN VAN WYK
Die hamer moet soms eerder so ’n raps groter wees!
Die ontmoetingsplek was ’n oop grasvlakte nie te ver van die Hoëveldse dorp Standerton nie. Ons het nie regtig gejag nie; die doel was eintlik net om ’n paar swartwildebeesbulle vir vleis te skiet vroeg in die seisoen voor die soetgras min begin raak en die diere kondisie verloor.
Ons het sommer vroeg die oggend ’n groot trop wildebeeste raakgeloop. Heel links, met geen ander diere agter hom nie, het ’n mooi bul plankdwars vir ons staan en kyk. Die afstand was onder 200 meter en ek het die kruisdraad ongeveer ’n derde op van onder af op sy regterblad geplaas en versigtig die sneller gedruk. Toe die skoot klap, het die bul vorentoe gestorm. Hy het egter nie ver gevorder nie en sy bene het gou-gou rubber geword. Die trop het, snaaks genoeg, nie op die vlug geslaan nie en sommer gou het ’n tweede bul ook reg gestaan. Ek het die koeël net agter die blaaie deur die bul se longe geplaas en ook hy het nie ver gevorder nie.
Daardie oggend het ek binne ’n minuut of twee baie respek vir Swift se 90 grein Scirocco-koeël in .243″ gekry. Beide koeëls het dwarsdeur die wildebeeste gepenetreer en albei het ná enkele wankelrige treë morsdood neergeslaan. Toegegee, die skootplasing was goed, maar die relatief ligte kaliber, gelaai met premium koeëls van goeie kwaliteit, het sy man uitstekend gestaan.
Kom ons sit die klok met bykans ’n jaar vorentoe na die Vrystaatse vlaktes naby Vrede. Die son was skaars op en die trop swartwildebeeste in die leegte onder ons het rustig gewei. Ons het hulle dopgehou en toe ’n mooi groot koei in die oopte inbeweeg, het die .243, gelaai met die getroue Swifts, weer gepraat. Die trop het van ons af weggestroom, maar een wildebees het begin agterraak. Sy gaan nóú val, het ek gedink. Maar sy het nie en die wildebeeste het oor ’n hoogte verdwyn met een wat al hoe verder agtergebly het.
Wat gevolg het, was twee ure van pure frustrasie. Om ’n lang storie kort te maak – ons het die koei gekry en ek kon haar gelukkig uit haar ellende verlos. Ek het egter daardie aand oor ’n glas Skotse moeraswater saam met my pa oor ’n paar dinge besin.
Die eerste ding wat ek besef het, is dat W.D.M. Bell, die beroemde Skotse ivoorjagter wat berug was vir sy gebruik van ligte kalibers soos die 7×57 en .303 op olifante, waarskynlik ’n groot stuk goeie geluk saam met sy vernuf as jagter aan sy kant gehad het. Die tweede ding was dat klein koeëltjies beter op kleiner bokke werk. Ek hou steeds van die .243 Winchester en beskou steeds die Swift Scirocco as ’n uitstekende jagkoeël, maar ek het dié kombinasie nooit weer op bokke groter as ’n blesbok gebruik nie.
Op die grotes se spore
Kom ons verskuif weer die agtergrond, hierdie keer na die digte mopaniebosse van Zimbabwe se suidoostelike laeveld. Die buffel was plankdwars en die kruisdraad was presies waar al die boeke sê dit moet wees toe die .375 H&H gebulder het. Tot my konsternasie het die buffel geen reaksie getoon toe die 300 grein Swift A-Frame-koeël hom tref nie. ’n Tweede skoot, hierdie keer ’n 300 grein Woodleigh-staalmantel-solid in die hart/long-area, het ook geen reaksie ontlok nie. Gou het ’n derde skoot gevolg, waarna die buffel in die ruie bosse verdwyn het…
Gelukkig was my skootplasing perfek. ’n Minuut of wat later het die buffel se weemoedige doodsbulk deur die bosse weerklink en toe ons by hom kom, was hy morsdood. My eerste skoot het ’n gat deur die hart en beide longe geskiet en onder die vel van die regterblad tot rus gekom. Dit het perfek omgeklink. Die probleem was egter dat die buffel nie dieselfde boeke as ek gelees het nie, want hy het duidelik nie besef dat hy veronderstel was om te vrek nie. Die insident het my egter oor die magiese .375 H&H laat wonder.
’n Hele klompie jare later het ek weer die kans gehad om ’n buffel te jag. Hierdie keer was ek gewapen met ’n vriend se Webley & Scott .450 NE-dubbel, gelaai met 480 grein Woodleigh-koeëls. Die bul was naby, maar die hoek waarteen hy weggestaan het, was nie ideaal nie. Ek sou die koeël só moes plaas dat dit deur die linkerribbekas tot in die hart/long-area penetreer. Vir ’n oomblik het ek oor dinge besin, die korrel diep in die wye V-visier weggebêre en die voorste sneller gedruk.
Toe die .450 bulder, het die bul vir ’n paar sekondes op sy knieë neergesak, maar weer met moeite opgestaan en vorentoe begin steier. Die tweede loop was egter gereed en die tweede Woodleigh het ook die merk gevind. Die bul het inmekaargesak en op sy regtersy gerol. Toe ek die geweer enkele oomblikke later herlaai, was alles binne sowat 40 sekondes verby.
Kort hierna het my jagmaat langs my by die buffel kom staan en ek het oor die tweede skoot gebieg. “That’s what it’s for!” het hy net droogweg opgemerk. Die prestasie van die .450 vergeleke met die .375 H&H was egter merkbaar – van die bul se reaksie toe die groot, swaar koeël hom getref het tot die kort tydjie wat hy gevat het om te vrek. By die afslagplek kon ek sien dat die eerste koeël groot skade aan die longe en die groot are bo die hart aangerig het. Groter koeëls vir groter diere, het ek myself herinner.
Formules is net ’n riglyn
Oor die jare heen is baie formules en teorieë oor die doodmaakvermoë van die verskillende kalibers gepubliseer. Die eerste een waarvan ek bewus was, was John “Pondoro” Taylor se “Knock-Out Value”-formule. Dit was hoofsaaklik op grootkalibergewere gemik, en in die tye waarin hy geleef het, was Taylor se formule waarskynlik geldig. In vandag se wêreld waar olifantjag min jagters beskore is, is dit egter meer van geskiedkundige belang.
Om ’n kaliber se energie in voetpond te bereken is vir baie jare reeds ’n aanvaarde gebruik. In Afrika is ’n minimum hoeveelheid energie tesame met die koeëldeursnee al meermale in verskillende lande gebruik om ’n minimum kaliber vir gevaarlike wild soos buffels en olifante te bepaal. By gebrek aan ’n ander, meer presiese wyse van vasstelling, is dit die manier waarop dit nog lank gedoen gaan word. ’n Minimum hoeveelheid energie neem egter nie ander faktore soos die vooruitgang in koeëlontwerp en ander soortgelyke faktore in ag nie; dit is dus beslis nie ideaal of allesomvattend nie. Diere bestudeer steeds nie ballistiese tabelle nie en gevolglik steur hulle hul ook nie aan sulke inligting nie.
Die regte ding om te doen?
’n Ander tameletjie wat byna vir seker die nekhare gaan laat rys, is die vraag of dit eties is (al dan nie) om groot diere met klein geweertjies te skiet. Nadat ek my vingers met die swartwildebees verbrand het, soos hierbo genoem, glo ek ons as jagters het ’n plig om ’n geweer van ’n gepaste kaliber te gebruik ten einde die diere wat ons jag, so vinnig as moontlik met die minste lyding te dood.
Noudat ek dít van my hart af het, wat is ’n “gepaste” kaliber? Wel, ek gaan nie weer ’n swartwildebees met ’n .243 aanvat nie, maar ek dink dat die .243 Winchester ’n uitstekende kaliber vir springbokke en soortgelyke diere op die oop vlaktes is. Myns insiens is die .243 dus ’n gepaste kaliber vir springbokke en ander soortgelyke wild.
As dit by die groter diere kom, is die keuses legio. Die .270 Winchester is met reg baie populêr. As ek gereeld diere soos hartbeeste en swartwildebeeste op die vlaktes moes skiet, sou ek definitief na die .270 as een van die beter keuses gekyk het. Dieselfde kan gesê word van die 7×64 Brenneke, alhoewel dié Duitser die voordeel het van swaarder (175 grein) koeëls wat in fabrieksammunisie beskikbaar is. Ek het al blouwildebeeste en koedoes met beide geskiet, maar verkies deesdae so ietwat meer geweer vir ’n taai ou blouwildebeesbul of ’n skelm koedoebul in die ruie mopanies.
Oor die jare heen het ek waarskynlik meer diere met die .30-06 as met enige ander kaliber gejag. Daar is diegene wat die .30-06 slegpraat (gewoonlik dié wat nog nooit een besit het nie, het ek agtergekom), maar hierdie kaliber se reputasie spreek vanself. Ek is baie gemaklik om diere soos blouwildebeeste, koedoes, gemsbokke en ander wild van soortgelyke grootte met die getroue ’06 aan te durf. Met goeie koeëls van 180 grein en swaarder, penetreer die .30-06 goed met aanvaarbare vleisskade, en met die hulp van moderne dryfmiddels soos Hodgdon 4350 kan die .30-06 ’n 180 grein-koeël teen 2 800 vps skiet met aanvaarbare druk. Dis dieselfde trompsnelheid waarteen die .30-06 tradisioneel 165 grein-koeëls geskiet het, wat al deur baie jagters (ek inkluis) goed in die oop wêreld aangewend is. Hierdie ou staatmaker se bene kan dus gerek word vir die vlaktes.
Wat van kleiner bokke soos rooibokke en blesbokke of selfs springbokke? Wel, die 7×57, .308 Winchester en .30-06 is dalk nie regtig nodig vir die kleiner bokspesies nie, maar hulle sal werk! Ek het geen probleem om so ’n raps te veel geweer vir ’n kleiner bok te gebruik nie; dis immers baie effektief en in baie gevalle is die vleisskade ook redelik beperk.
Die dikdop-magnum-kalibers het uiteraard ook hul plek in die groter geheel. Ek hoor gereeld klagtes oor die vleisskade wat kalibers soos die .300 Winchester Magnum veroorsaak, maar die probleem is eerder die aanwending as die hoë trompsnelheid, tesame met swak koeëlkonstruksie wat in die eerste plek die vleisskade veroorsaak. Die magnums is vir langer afstande bedoel. In plekke soos die Kalahari of Karoo kom hulle dus tot hul reg en hulle langer bene kan handig te pas kom as die windjie begin stoot en die bokke maar ver wei.
Daar is ook diegene wat hulle bokke (al hulle bokke) met swaarkalibergewere skiet. In beginsel het ek nie ’n probleem hiermee nie en hulle werk vir seker uitstekend op “gewone” wild. Die terugskop en krom koeëltrajek maak dié grootbekke egter nie altyd ideaal nie, veral nie in oper wêreld nie.
Min dinge is meer gerusstellend as die gemoedsrus wat ’n effe groter kaliber op die groter wildspesies bied. Hulle maak groter gate en die effens stadiger maar groter koeëls penetreer gewoonlik goed. Ons is dit aan die bokke verskuldig!

























