Nocturnal Oryx Consternation

9 June 2026

So ’n raps meer…

9 June 2026

9 June 2026

Ramland

Deur ANDRÉ GERBER

Vlaktes so wyd soos die Heer se genade…

So wyd soos die Heer se genade, so wyd lê die wêreld om Upington – en ek bedoel dit met oorgawe, want die Vader se genade is groot. Mense vra my gereeld waarom ons Upington toe getrek het. Upington, sê jy? Ja, Upington. Ek sê vir hulle Upington is Kanaän. Mense kyk my verbaas aan, maar ek bedoel dit. Upington is een van Suid-Afrika se Kanaäns. Met die Oranjerivier wat Lesotho en die Hoëveld se waters woestyn toe bring, is dit ’n paradys vir wingerdbou. En kyk jy net bietjie wyer as die rivier, sal jy gou agterkom dat jy boonop ook in ramland is.

Na die noorde en ooste van die dorp lê die Kalahari. Suid en wes van die dorp kry jy die Boesmanland. Die Boesmanland kry minder reën en het dalk nie dieselfde romantiese prentjie onder jagters as die Kalahari nie, maar dié twee streke het een ding in gemeen: hier loop monster-springbokramme!

 

’N EERSTE GELEENTHEID

My eerste jaggeleentheid in hierdie wêreld was in 2020 op oom Oubaas Stadler se Damplaas suid van Noenieput. Damplaas se onderste derde lê op hardeveld suid van die Kalahari se duine. Springbokke was volop, maar daar was net een probleem: Die skietafstande was wyd! Voor Upington het ons vir nege jaar in Ellisras (deesdae Lephalale) gebly, waar skietafstande baie selde verder as 100 meter is. Skietafstande van 300 meter was en is nog steeds ’n uitdaging. Ek kon darem ’n ram geskiet gekry in Noenieput, maar daar was heelwat misskote.

Die jaar se eerste jag was op die plaas Tirisano naby Louisvale. Louisvale is so 15 km suid van Upington. Theuns Engelbrecht het Tirisano opgebou tot ’n spogplaas waar hy tafeldruiwe en rosyne vir uitvoer produseer. Tirisano het ’n groot stuk buitegrond waar ek die geleentheid gekry het om ’n springbokram te gaan soek. Voor die jag is ek skietbaan toe waar ek vir Tubby en sy pa, Dewald Stander, ontmoet het. Die manne was besig om Jan Smit se bosveld-.30-06 vir vlakteskiet aan te pas. Jan het in Phalaborwa grootgeword en nes ek moes hy nou by die vlakte-afstande van die Noord-Kaap aanpas.

Tubby het vir Jan ladingontwikkeling gedoen met 150 grein Nosler Ballistic Tip-koeëls. As iemand vir jou vertel ’n .30-06 kan nie lang, akkurate skote tot op 300 meter gooi nie, moes jy by gewees het. Jan se geweer skiet skoot vir skoot ghongs op 500 meter raak.

Tubby is ’n uitstekende skut en volgens hom gaan hy pynlik presies om met herlaaiwerk en ladingontwikkeling. Hy het sy .243 Ackley en 6.5 Creedmoor op die baan gehad en baie gou bevestig wat ek reeds vermoed het. Op die oop vlaktes buite die duineveld van die Kalahari rondom Upington moet jy gemaklik wees met skote tot op 300 meter. So jy moet of ’n teleskoop met ’n verstelknop op jou geweer monteer, of jy moet gewoond raak aan ’n holdover met jou kruishaar. Ek het ’n paar skote met my 7×64 Sako op 300 meter geskiet en was gemaklik om veld toe te gaan. My jagammunisie was 140 grein Nosler Ballistic Tip-koeëls teen ’n trompsnelheid van 2 950 vps.

In die winter is hier twee heersende winde: ’n Warmer noordewind uit die Kalahari en koue suidewinde wat met kouefronte gepaard gaan. Nadat die kouefronte verbybeweeg het, is daar strawwe ryp, maar die dae is dan betreklik windstil. Dis een ding om op ’n windstil dag langafstandskote te skiet, maar gooi ’n stewige briesie by die prentjie en jy het sports. Gelukkig was dit op ’n redelike windstil middag wat ek uit is na Tirisano se buitegrond. ’n Effense luggie het uit die suide getrek, maar dit was niks ernstigs nie.

 

DIE GROOT AANPASSING

Twaalf jaar gelede het ek vir ’n paar maande noordoos van Kisangani (Stanleyville) in die reënwoude van die Demokratiese Republiek van die Kongo as eksplorasie-geoloog gewerk. Ek onthou nog goed die kontras wat ek ervaar het toe ek uit die reënwoude na ’n projek in die oop Namibwoestyn suid van Walvisbaai verskuif het. Dit was asof die wêreld kaal gepluk was. My hele wese het na ’n koelteboom gesmag, maar die oop wêreld trek jou in en die gevoel van spasie bring vrede en visie.

Die verandering van die westelike bosveld na die Noord-Kaap is dalk minder dramaties, maar nogtans groot. Die wêreld om Upington is soos ’n hoender wat net sy kuif- en stertvere oorhet, maar dis ’n wêreld wat ek reeds liefgekry het.

Tirisano se buitegrond bestaan uit graniete en gneise van die Namakwa Metamorfe Kompleks. Die terrein is effens golwend en dreineer in laerliggende depressies weswaarts in die rigting van die Oranjerivier. Die dreineringslote bestaan uit ingewaaide Kalahari-sand en dis hier waar daar meer plantegroei is en ook plek-plek ’n kameeldoringboom voorkom. Benewens die laagliggende dele is daar byna geen bogrond nie. Die gesteentes hier is lig van kleur, wat baie lig vanaf die oppervlak weerkaats. Dis byvoorbeeld moeilik om in die middel van die dag hier rond te dwaal sonder ’n sonbril. Hier is die plantegroei platter en yler, met sporadiese kokerbome die enigste bome.

My plan was om met die bakkie al op die kant van die sandlaagtes in ’n oostelike rigting te ry en hier en daar te stop en met my verkyker springbokke te soek. Indien ek ’n springbok sou sien, was die plan om in die leegtes op te bekruip tot binne skietafstand.

Ek het die eerste springbokke in die oostelike, effens hoërliggende gedeelte van die plaas aangetref. Van skietkans was daar nie sprake nie. Sodra hulle die bakkie gewaar het, was hulle vlugvoetig deur die leegtes tot op afstande van ’n kilometer of verder tussen hulle en enige digter plantegroei. Daar was geen kans vir bekruip tot binne 400 meter nie.

Later die middag het ek op ’n troppie van sewe ooie en ’n ram afgekom wat so 200 meter voor my oor die pad is. Die ram was agter en het in tipiese springbokstyl getrippel-trippel, sy kop laat sak en woep-woep-woep so ’n paar pronkspronge gemaak. Die troppie het, nes die voriges, koers gekies deur die leegte, weereens tot op ’n afstand van waar hulle my veilig kon dophou.

Ek is verder oos tot naby die plaas se grens toe ’n beweging naby ’n eensame kokerboom my oog vang. ’n Ram het weggespring en in nog ’n bosserige sandleegte gaan wegkruip. Ek het lank in die bakkie gesit en hom dopgehou. Met net sy kop wat uitsteek, het hy agter ’n ry driedorings gestaan en elke nou en dan sy kop geskud. Sy horings was lank met daardie tipiese agteroorbuig van die groter ramme. Dit was ’n alleenloper en hy was ’n monster.

Die ram het begin rustiger geraak en stadig met die leegte begin afbeweeg tot hy buite sig was. Ek is rugsak op die rug (ek gebruik my rugsak as ’n skietsak) met die 7×64 te voet in die rigting van die leegte toe die ram sy kop uitsteek en stip na my kyk. Hy was op 400 meter. Ek het my rugsak stadig laat sak en, soos ek grond toe sak, was die ram weer buite sig. Ek het nader probeer bekruip maar die ram het laat spat.

 

’N LAASTE POGING

Ek is terug bakkie toe en het al in die pad af parallel met die dreinering beweeg tot ek teen so 17:15 besluit het om my draai huiswaarts te maak. Die troppie van sewe ooie wat ek vroeër die middag gesien het, is so 200 meter voor my rustig oor die pad. Met die son nou reg agter my was die ooie salig onbewus van my. Die pronkram wat vroeër by die troppie was, was nou egter soek.

Met my verkyker het ek die golwende vlakte suid van die leegte gefynkam toe ek die ooie se ram gewaar. Hy was aan die draf in die rigting van die ooie, maar was omtrent ’n kilometer weg van my. Die ram het al nader gekom, maar ek het hom op sowat 500 meter van my af verloor. ’n Tweede en ouer stomphoring-bakleiram het sy verskyning gemaak en ’n rukkie later op die spoor van die pronkram gedraf. Die ram het egter uitgekom in die leegte waar ek die eeste ram verloor het en rustig al in my rigting in gedraai.

Upington het ’n sonplaas met ’n weerkaatsende sontoring wat 200 meter bo die vlaktes uittroon. Die sontoring is ’n doring in die oog op die noordelike horison. Dis asof Upington nou twee sonne het. In die somer voel dit asof die natuurlike son jou van bo af klap, terwyl die mensgemaakte son jou blaaie van die kant af brand! Dit was nou al 17:30 en die son het laag in die weste begin duik.

Met die verblindende sontoring en die sakkende son albei reg agter my rug, het die ram my nie gesien nie. Hy het al nader beweeg – 500 meter, 450 meter, 400 meter, 350 meter… Toe die ram op 302 meter kom, was ek gereed om ’n skoot te vat. Hy het met ’n hoek na my toe gaan staan. Ek het die kruishaar bokant sy skouer tot rus laat kom toe hy skielik weer begin beweeg. Vyf tree nader het hy plankdwars vasgesteek. Toe die geweerskoot oor die vlaktes weergalm, het die ram in sy spore neergesak.

Dis ramland vir jou!

Related Articles

Nocturnal Oryx Consternation So ’n raps meer…